Simon Deel 1
Tuisblad Dagboek Leukemie Foto's Skakels Kontak Ons Kan u help?


Simon se verhaal van datum van diagnose in Februarie 2004

Klik hier vir: Deel 2, Deel 3

Indeks

 

  • Februarie 2004 - Diagnose

Februarie 2004

 

  Terug na indeks

Simon se siekte

Donderdag 5 Februarie 2004

 

Tydens middagete na skool wys Simon en Laetitia vir ons die blou kolle op sy arms, bene en maag wat hulle by die skool ontdek het. Party is klein (ongeveer 15mm in deursnee) en ander groot (ongeveer 40 mm in deursnee). Party is plat, maar ander is weer opgeswel. “Dit moet ’n spinnekop of iets wees wat jou gisteraand in die bed gebyt het”, sê ons.

Na ete gaan slaap Simon lank en behoorlik; hy word eers na 16h30 wakker. Danus le Roux is baie vies omdat Simon nie meer (soos afgespreek) saam met hom wil gaan fiets ry nie. Maar dis mos te verstane dat Simon so moeg is, want hy het die vorige aand tot na 23h00 met ’n kloppende hart langs sy ma op die bed gelê en kyk hoe Shaun Pollock die eendagreeks teen die Windies met ’n ses van die derdelaaste bal wen.

Teen 21h00 gaan haal ons vir Wouter en Abrie by die Con Spirito-kooroefening, en met ons tuiskoms spuit ons Simon se bed deeglik met insekgif, en sy lyf met Peaceful Sleep. Die spinnekop gaan hom beslis nie weer byt nie!

Toe Pa en Ma uiteindelik aan die slaap raak, is ons moeg, maar ons voel baie gelukkig en lief vir mekaar.

Vrydag 6 Februarie 2004

Toe ek die tweeling net na skool voor die hoofhek oplaai, is Simon en Elizabeth Sonnekus al weer tergerig, stoeierig aan die lag en speel. Simon en Laetitia klim in die kar, en babbel soos gewoonlik die hele pad huis toe.

Ma het melkkos gemaak want dit het ’n bietjie gereën. Simon eet twee bakkies melkkos, al kla hy weer van ’n ligte hoofpyn. Ons voel sy voorkop, en dit is ’n bietjie warm. Omdat dit Vrydag is, besluit ons om geen kanse te waag nie en hom maar voor die naweek dokter toe te vat. Sê nou maar dis die nagevolge van die spinnekopbyt. Ek bel dr Eugene van der Walt se spreekkamers, en sy ontvangsdame sê ek kan Simon so teen 14h30 bring. Dr van der Walt is self in die hospitaal opgeneem met nierstene, maar ’n kollega sal teen daardie tyd daar wees om vir hom in te staan.

Die kollega is dr. Jaco Jürgens van Krugersdorp wat eers ’n bietjie later heel informeel,  vriendelik en verskonend in die spreekkamer instorm. Daar is twee ander pasiënte voor ons, en ons kom seker eers teen ongeveer 15h00 aan die beurt. Toe ons in die spreekkamer gaan sit, merk hy dadelik op dat Simon baie bleek is. Simon maak ’n ligte grappie daaroor. Ek vra verskoning omdat dit waarskynlik nie ’n ernstige probleem is waarmee ons hom ophou nie; dis tien teen een net een of ander ligte virus. Ek wil maar net veilig speel voor die naweek aanbreek, en sê hy moet sommer na die spinnekopmerke ook kyk.

Jaco sit onmiddelik regop en vra vir Simon om vir hom die merke te wys. Toe hy die merke van oorkant die lessenaar sien, beveel hy Simon dadelik om om die draai te gaan en op die bed te gaan lê. Daar ondersoek hy Simon deeglik, kyk na die merke en bevoel sy organe. Hy stap by my verby na die spreekkamer toe terwyl Simon bly lê, en beduie stilweg met ’n klop op die rug vir my om hom te volg. Hy is baie ernstig en verduidelik vir my dat dit óf die nawerking van ’n virusinfeksie is (ITP) óf dat dit leukemie (ALL) kan wees. Hy sê nie die woord leukemie hardop nie, maar skryf dit net op ’n stuk papier. Ek moet onmiddelik ’n pediater gaan sien, Simon moet onmiddelik in die hospitaal opgeneem word en daar moet allerhande toetse op hom gedoen word.

Jaco is dadelik kieskeurig oor pediaters en vra waar ons bly en of ek bereid is om Krugersdorp toe te ry om iemand te gaan sien. Ek vra oor pediaters by Flora of Wilgheuwel, maar kom toe agter dat hier ’n groot skroef los is. Daarom vra ek of ek Simon na ons aangetroude familielid, dr Jacobus van Dyk, in Pretoria kan neem. Ek moet egter eers ’n nommer kry, en bel huis toe daarvoor. Susan is dadelik besorg, maar ek laat val nie wat aangaan nie. Die nommers wat sy my gee, is verouderd en ek bel my swaer, (ds) Bertus van Niekerk op Carletonville. Hy is nog bly om my stem te hoor en wil vriendelik praatjies maak, maar ek knip hom wreed kort. “Skuus, Bertus, maar ek soek Koos van Dyk se nommer dringend!” Bertus moet dit eers op sy selfoon opsoek, en bel my ’n minuut later terug. Jaco Jürgens bel Jacobus onmiddelik, en verduidelik dat hy dink dit kan ITP of ALL wees. Jacobus sê ons moet na sy kamers by die Femina Hospitaal in Pretoria toe ry. Jaco verseker my dat ons Simon presies op die regte tyd ingebring het – ’n dag of wat vroeër sou hy hom doodgewoon vir ’n virus behandel het. Daar is nog baie hoop, want dit is waarskynlik eerder ITP as ALL, en selfs vir ALL is daar in die afgelope vyf jaar baie suksesvolle behandelings gevind. Maar ek moet belowe om hom op sy persoonlike selfoon te bel sodra ons die uitslae van die volledige toetse het.

Intussen het Susan besef hier is moeilikheid, en sy het in die kar geklim en na die dokter se spreekkamers in Ruimsig toe gery. Laetitia het ook die ontsteltenis aangevoel en dring daarop aan om saam te kom, “want dis dan haar tweelingboetie”. Ons moet egter eers terugry huis toe om vir Simon ’n tas te pak, en vir Susan ’n ander bloes aan te trek, want sy het net voor ete haar hare laat sny en dis net hare waar jy kyk.

Toe spring ons in die Audi en jaag Pretoria toe. Ons kom net voor 17h00 by Jacobus se spreekkamers aan, en moet net wag dat hy sy ander pasiente eers sien. Hy ondersoek vir Simon baie, baie deeglik en stuur ons dadelik vir bloedtoetse by die patoloë. Hy reël dat die toetse onmiddelik ge-analiseer word, en dat hulle hom persoonlik sal bel sodra die uitslae bekend is (dis blykbaar presies die teenoorgestelde van sy normale praktyk). Ons moet eenvoudig by die patoloë bly wag tot hy ons bel. Ons los die tweeling binne en gaan bespreek ons vrese buite in die straat met mekaar voordat ons weer binnetoe gaan. Ons het skaars gehoor hoe die personeel by die patoloë hom groet toe my selfoon lui. Hy vra ons rustig om na sy huis toe te kom sodat ons daar kan praat. Ek en Susan besef onmiddelik dat dit slegte nuus is.

Toe ons so teen 19h00 by die voordeur instap, druk Lynette vir Susan vas en sê vir haar sterkte. Ons vermoedens word bevestig. Binne vier ure het ons van versigtigheid oor ’n ligte virusinfeksie of insekbyt beweeg tot by bevestiging van ’n diagnose van bloedkanker!

Lynette vat die tweeling in die kombuis in en bederf hulle met lekker kos en Grapetiser. Die tweeling dink dokters moet baie ryk wees, want tannie Lynette is bereid om die Grapetiser oop te maak en dis nie eers ’n spesiale geleentheid nie! Ons volg Jacobus na die sitkamer toe, en met die instap sê Susan vir hom: “Dis nie nodig om te vra nie; dit ís wat ons vermoed, nè?” Ja, dit is. Ons is witgeskrik, maar luister redelik rustig en vra ’n paar vrae. Die toetse bevestig bo alle twyfel dat Simon ALL (Akute Limfoblastiese Leukemie) onder lede het, maar daar is baie verskillende variasies en daarvoor moet ’n onkoloog verdere gespesialiseerde toetse doen. Jacobus het reeds gereël dat prof Mariana Kruger, hoof van die Dept Kinderonkologie aan UP, ons Saterdagoggend 09h00 by UNITAS-hospitaal sien. Daar is nog baie hoop, maar dit sal beslis lang behandeling met chemoterapie insluit. Simon sal net vir ’n begin langer as twee weke in die hospitaal moet bly.

Nou moet die nuus oorgedra word, en moet daar skielik reëlings getref word. Ek en Susan bel albei ons eie ouers – hare met vakansie aan die Suidkus, en myne in Onrus. Ons is hewig ontsteld en sukkel om die woorde uit te kry. Susan se ouers bars spontaan en hardop in trane uit; my ma kan eers nie hoor wat ek sê nie en kan toe nie vir my pa sê wat ek gesê het nie. Ons laat mekaar in wedersydse ontsteltenis en beëindig die gesprekke. Nou moet ons vir Martin Botha (die tweeling se skaakafrigter) bel, want hulle sou môre saam met Gauteng se wen-skaakspan Gold Reef City toe gaan. Ons bel ook vir Anton Enslin om te reël dat hulle vir Laetitia kom oplaai Gold Reef City toe. Ons bel weer ons ouers, en ook ons broers en susters, en vir Jaco Jürgens en Johann Beukes. Almal is net so ontsteld as ons, en wil graag help. Lynette gee vir ons koffie, en Jacobus verduidelik vir die tweeling wat met Simon fout is. Simon luister heel rustig, maar Laetitia skrik merkbaar toe sy die woord “kankerselletjies” hoor.

Ons ry so teen 20h30 terug huis toe. Danie van Rensburg bel ons sommer langs die pad al. Ons verduidelik vir Abrie en Tiaan Swart wat aangaan, maar moet lank wag dat Wouter en Dewald Niemandt van die skole-atletiek huis toe kom. Simon is moeg en gaan slaap soos ’n klip. Susan bel intussen vir Lina le Roux en maak verskoning dat sy nie Saterdag met die revue kan help nie. Toe Wouter-hulle uiteindelik by die huis kom, het hy uit ’n onderwyseres se groet afgelei dat daar slegte nuus wag. Hy hou my en Susan albei lank vas, en binne bid Dewald met groot opregtheid vir ons.

Ons gaan kamer toe en Susan drink ’n slaappil. Laetitia kom sommer gou-gou by ons inkruip. Slaappil ten spyt kry Susan net so ’n uur en ’n half se slaap in; ek slaap nie veel meer nie.

Saterdag 7 Februarie 2004

Ons staan al voor 06h00 op. Simon is ook al op, “want ek wil gou gaan rekenaarspeletjies speel voor ek vir ’n lang tyd in die hospitaal nie kans kry nie”. Susan stap in die tuin uit, en gewaar vir (ds) Fanie le Roux oorkant in sy erf. Fanie en Marietjie nooi ons in vir koffie en troos. Fanie bel die voorsitter van hulle gebedsgroep, Leon, wat onmiddelik oorry om ons met sy trooswoorde te bemoedig. “Onthou, julle is nooit alleen nie, en onthou dat julle julle hartsbegeertes aan die Here mag bekendmaak. Ons bid saam met julle.”

Leon Swanepoel laai vir Jaco af om saam met Abrie en Tiaan te gaan fietsry. Toe die seuns weg is, vertel ek hom van Simon. Hy is net so bewoë en doen sy bes om my moed in te praat. Toe begin die telefone lui. Die nuus het soos ’n veldbrand versprei en daar is net soveel mense wat hulp aanbied. Dis moeilik om te verduidelik wat gebeur het, en wat ons so ver weet, maar dit help ontsaglik baie om te weet daar is sovele mense wat ons ondersteun en in die gebed dra. Nelus en Marthinet Niemandt kom haal vir Dewald en Wouter, Francois en Karin Scholtz draai by Parys om om vir Laetitia te kom haal en saam te vat plaas toe, Hannes en Martilene Buckle kom maak ’n draai.

Ons jaag uiteindelik om 08h35 by die huis weg. Langs die pad vra ons vir Simon of hy verstaan wat sy siekte is. Hy herhaal in detail Jacobus se verduideliking, maar kan nie onthou dat die siekte se naam leukemie is nie. Toe ek vir hom sê dat die gewone Afrikaanse naam vir leukemie bloedkanker is, skrik hy vir die eerste keer. “So, het ek ’n kanker?” 

Die personeel van die Kinderonkologie-afdeling by UNITAS-hospitaal ontvang ons uiters vriendelik en simpatiek. Ons moet vorms invul, en dan vat suster Angelique ons persoonlik na Simon se kamer en toe na Mariana Kruger se spreekkamer toe. Sy is vriendelik en baie professioneel, en is ook deur Jacobus op ons koms voorberei. Ja, en dr Ansu Killian (Marian se skoolmaat) het ook reeds navraag gedoen en met die haematoloog, dr Esther van Vuuren, reëlings getref vir ons aankoms. Ons moet Simon vat vir X-straalplate van sy hart en longe, en later weer terugkom vir ’n private ouergesprek.

Terug by die saal is daar ’n hele paar ouerpare in die gemeenskaplike kuierarea, en hulle doen moeite om te groet en uit te reik na ons wat duidelik maar nuut, verskrik en vreemd is. Maar die meeste van die kinders se voorkoms wys die tipiese ontstellende tekens van kankerpasiënte – kaal koppe en opgeswelde lyfies. Maar daar is allerhande dinge om die kinders mee besig te hou, onder andere ’n rekenaar en ’n Playstation 2, en al die ouers verseker ons dat dit later beter gaan en dat ons baie rede het om te hoop en vertrou. Almal het net goeie woorde vir die dokters en verpleegpersoneel. Intussen is daar soveel mense wat bel of SMS’e stuur. Ons word gedra deur almal se liefde en gebede. Daar is tientalle vriende en familielede, en minstens vyf gemeentes wat vir ons voorbidding doen.

Prof Mariana Kruger laat roep ons vir die ouergesprek. Simon se witbloedtelling is verskriklik hoog (215 000 ipv 20 000), en sy plaatjietelling verskriklik laag (20 ipv iewers tussen 140 en 450). Dit dui daarop dat sy kanker baie akuut en agressief is. Die selle verdeel waarskynlik elke 4-6 ure (ipv elke 24 uur). Die voordeel daarvan is dat dit beter op behandeling reageer omdat die medisyne dus meer kwaadaardige selle op ’n slag tref.

Dit beteken egter ook dat sy nie met behandeling kan wag tot Maandag na die uitslag van die beenmurgtoets en ander toetse nie. Sy gaan dus dadelik begin om vir Simon steroïede te gee om die witbloedtelling te beheer, en reël ook dat hy plasma kry om die bloed dikker te maak sodat hy nie so maklik bloei nie. Sy verduidelik die hele proses (die sg ALL BFM95-protokol) van behandeling volgens die Europese skool. Dit sal begin met kortisoonbehandeling en ander middele om te bepaal hoe die kanker daarop reageer. Daar sal minstens ses sessies van chemoterapie wees, met die moontlikheid van ’n beenmurgoorplanting indien ’n geskikte skenker gevind kan word. Die basiese proses van behandeling sal (sonder komplikasies) ongeveer 9 maande duur. Mariana gee vir ons haar foonnommers en e-pos-adres, en verseker ons dat sy die hele tyd in kontak is met die verpleegpersoneel. Sy wil graag “Professor” wees ter wille van ’n professionele afstand, maar Susan gee haar nie kans nie. Ons is informele mense, en ons sal haar maar Mariana noem.

Simon word dadelik op ’n drup gesit, en teen 13h00 kom dr Esther van Vuuren om van Simon se beenmurg uit die rug te trek. Hulle sedeer Simon en ons gaan koffie drink en iets eet. André, Chrisanda en Dominique kom kuier, en een van my nuwe tweedejaarstudente, Lourens du Plessis, kom ook daar verby. Hy gaan bid vir Simon, en beloof ons ook hulle ondersteuning in gebed. So net voor 15h00 kom ons terug na Simon toe. Hy voel goed, en ons los hom alleen om eers ’n draai by die winkels te maak. Ons probeer vir Simon ’n selfoon koop, en koop vrugte, doughnuts, ’n lang koeksister en sjokolade. Hy eet lekker groente en poeding vir aandete, en geniet die doughnut en ’n stuk koeksister.

Ongeveer om 18h00 kom koppel hulle die plasma aan Simon se drup om sy bloed te verdik. Aanvanklik gaan alles goed, maar toe begin hy skielik kla oor ’n hoofpyn. Net so skielik kla hy oor ’n seer maag, en toe sê hy hy voel naar. Ek skuif die tafel onder hom in en gryp vinnig ’n groot koffiebeker. Maar die koffiebeker is nie groot genoeg nie en dit spoel oor die tafeltjie en beddegoed. Die verpleegpersoneel is onmiddelik by om te help, en trek dadelik die bed silwerskoon oor. Maar daar volg nogtans ’n tweede sessie, al staan ons die slag met groot bakkies gereed om wat in sy maag oor is, op te vang. Simon se liggaam akkordeer duidelik nie met hierdie medikasie nie, en die verpleegpersoneel kontak Mariana onmiddelik. Sy skryf iets anders voor wat saam met die plasma ingegee moet word om Simon se allergiese reaksie teen te gaan.

Maar nou voel Simon vir die eerste keer sleg en hy huil. “Ek wil nie meer siek wees nie, Mamma; ek wil net huis toe gaan!” Dis 18h36 – net mooi 24 uur nadat Simon met leukemie gediagnoseer is, en ons beleef die eerste insinking.  Ons troos en verduidelik dat ons geweet het dit sal gebeur. Trouens, dit gaan nog baie gebeur, want dit is die pad van gesondword.

Susan gaan lê agter sy rug en begin vir hom sing, en ons sing vir hom “Op berge en in dale, ja, oral is my God”, “Kom dank nou almal God” en Simon se gunsteling, “Praat ek mense-, eng’letale”. Susan bid vir hom, en daarna gaan dit net beter. Hy lê ’n rukkie, en Susan drink ’n slaappil. Totdat al die plasma opgeneem is, kom neem die verpleegpersoneel elke kwartier sy bloeddruk. Die verpleegpersoneel skuif vir Simon ’n TV en DVD in die kamer in, en terwyl sy ma op die oorkantste bed aan die slaap raak, begin Simon na ’n fliek op DVD kyk.

Teen 23h20 is Simon vaak, en vra hy my om sy Kinderbybel vir hom aan te gee. Hy wil ’n stukkie lees voordat hy gaan slaap. Waar trek ons? Week 6, die Saterdag. Die oordenking: “Johan in gevaar”, en dit vertel hoe die Here ’n man gebruik om ’n seuntjie by ’n gevaarlike pad te red. Die gebedjie: “Ons hemelse Vader, my mamma en pappa probeer my beskerm ... Dankie dat U my oppas.” Die teksvers: Deuteronomium 33:27: “Die ewige God is ’n skuilplek, sy arms is altyd onder jou ...” Simon is opgewonde omdat dit so goed op hom van toepassing is, en ons dink ook terug aan Abrie se noue ontkoming in Sheffield. Toevallig? Ek kon nog nooit so vas in die toeval glo nie ... Ons bid saam en gaan slaap met groot rustigheid. “Loof die Here al wat lewe, wil Hom dank en hulde bring. / Hy het al ons skuld vergewe; ons ’n nuwe lied laat sing.”

Dis ’n goeie nag, al word ek en Simon elke uur wakker van die drup se masjien wat piep om die personeel te roep as dit leeg is. Om 20h00 en om 04h00 kom trek hulle bloed. Maar dit gaan goed, die Sondag lê voor, en ons het nuwe krag en nuwe moed!

Sondag 8 Februarie 2004

Vanoggend word ons net na 06h00 wakker toe die mense weer kom om van Simon se bloed te trek.  Simon se armpie is al blou van al die naalde, maar hy is dapper en sê dit word al makliker.  Dis wonderlik dat ons dit met hom kan bespreek en dat hy verstaan.  Ons hoor hoe huil ’n veel jonger kind af in die gang: ”Eina! Eina! Eina, Mammie!”  Maar ons Simon byt op sy tande en maak sy ogies styf toe terwyl hulle sy swak aartjies soek.

Simon kry weer ’n lekker groot ontbyt, en ek en Susan gaan eet ’n muffin en drink koffie by Wiesenhof in die hospitaal se foyer. Die telefoon lui weer ’n paar keer met besorgde familie en vriende, maar nou kan ons goeie nuus gee.

Terug in Simon se kamer is daar ’n tydelike maatjie, Marthinus (14) en sy ma Retha uit Waverley. Hy het ook ’n tweelingboetie, en is reeds in remissie na klierkanker. Hulle reik ook uit, en gee ons baie moed. Gister nog het ons die hele tyd geworstel met die gedagte dat ons kind kan sterf; vandag wag ons dat hy weer kan begin lewe!

Mariana Kruger kom doen haar rondtes terwyl ons weg is om Simon se nuwe selfoon te gaan haal. Ons kry later die nuus van die verpleegpersoneel: die bloed wat om 06h00 getrek is, toon dat sy witbloedtelling skerp geval het (ongeveer 25%, van 217000 na 173000). Sy liggaam reageer dus baie goed op die medikasie, en daar is ook geen probleem met die uitskeiding van die gifstowwe en afgebreekte selle nie. Daar is baie hoop, al verstaan ons dat die stryd maar pas begin het.

Toe ons terugkom by die hospitaal wag Annelette, Grethele en Clinton Cuthbertson al vir ons. Hulle het vir Simon sjokolade gebring, en vir my die herlaaier vir my selfoon wat binne ’n dag papgepraat is. Die kinders kuier ’n hond uit ’n bos terwyl ons grootmense weer by Wiesenhof koffie drink en eet. Toe daag Gert en Mariette van Wyk met hulle twee dogters (Anriëtte en Juarien) daar op. Ja, sê Gert, as jou kind hier lê, koop jy naderhand aandele in die koffiewinkel. Hulle gee ook raad oor parkeerplek, mediese fonds en medisyne. Ons kuier lank en lekker, en put baie hoop en troos uit hulle ervaring.

Die vriende was skaars weg toe die familie opdaag. Oupa en ouma Barnard het van die Suidkus af teruggekeer en vir Wouter en Abrie opgelaai. Hulle is almal bly oor die vordering so ver, en Oupa doen vir Simon en Marthinus ’n gebed voor hulle vertrek. Marian kom ook kuier, en ons sê toe maar vir haar dat Simon se siekte ons plan is om van die peroksied in sy hare ontslae te raak wat sy Desember daar ingesit het. Binne ’n maand is al die peroksied (en hare) weg. Marian groet, en Susan vat Wouter en Abrie terug huis toe. Hulle het maar ’n rowwe naweek agter die rug. Toe die krisis Vrydag ontstaan, het ons Wouter eenvoudig na die Niemandts toe gestuur en vir Abrie na Tiaan Swart toe. Nou moet hulle op Sondagaand teruggaan huis toe, huiswerk doen en voorberei vir ’n nuwe week.

Toe hulle almal weg is, kom André, Chrisanda en Dominique kuier. Simon is behoorlik uit sy kassie uit met al die kuiergaste, en probeer Dominique vermaak deur gesigte te trek. Toe daag die nefies en niggie saam met Pierre op. Simon deel blokkies van Annelette se sjokolade uit en is so vrolik dat Aletia, Pierré en Jacques sommer lus is om ook hospitaal toe te kom. Dis na 21h00 toe die laaste mense vertrek, en ons bel Oupa en ouma Van Wyk met Simon se nuwe selfoon. Susan bel van die huis af en vertel dat die huisfoon se boodskapfasiliteit oorvol was met goeie wense van so baie mense. Simon raak langs my aan die slaap terwyl ek nog oor die selfoon praat.

Die eerste skokke is geabsorbeer, en vandag was eintlik ’n wonderlike dag vol liefde en hoop.

Maandag 9 Februarie 2004

Dis vroeg reeds duidelik dat die hospitaal in die week baie besiger is as oor die naweek. Die personeel swerm behoorlik die hele wêreld vol, en die drie beddens in Simon se kamer wat oop was oor die naweek, kry vroeg reeds kinders. Party is net daar vir die dag, maar ander kom vir ’n langer tydperk.

Die uitslag van 06h00 se bloedtoetse kom: die witbloedseltelling is af na 77500 – ons vorder nou vinnig! Sy hemoglobien- (HB) en plaatjietellings is egter vreeslik laag; eersgenoemde beteken dat sy rooibloedtelling baie laag is en dat hy daarom bleek en moeg is, laasgenoemde beteken dat sy bloed se stolvermoë baie swak is en hou dus die risiko van onbeheersde bloeding in. Hy moet dringend gepakte bloedselle en -plaatjies kry.

Aangesien die bloedtoetse Vrydagaand gewys het dat Simon se bloedgroep (soos myne) B+ is, gaan skenk ek Maandagoggend in die hospitaal bloed. Die bloed kan egter nie net so vir Simon gegee word nie, maar die noodsaaklike bestanddeel (óf gepakte selle óf plaatjies) moet eers van die res geskei word. Die bloed moet in elk geval eers getoets en bestraal word – nogal by die Bloedbank se hoofkantoor naby ons huis in Constantia Kloof. Dit beteken dat die bloed wat ek skenk op die vroegste teen Dinsdagaand beskikbaar sal wees, en Simon kan nie so lank wag nie. Ons gee dus toestemming dat hulle solank bloed van die Bloedbank vir hom kan gee. My bloed sal in plaatjie-formaat Woensdagoggend vir hom gegee word voordat hy geopereer word om ’n implantasie in die borskas te sit waardeur medisyne gerieflik en higiënies vir hom gegee kan word.

Teen Maandagmiddag het hulle nog steeds nie vir hom bloed gegee nie. Hoekom nie? Want die Bloedbank sê sy bloedgroep is B-. Maar dit kan dan nie wees nie, want Vrydagaand se patoloë en die hospitaal se eie patoloë het dan gesê hy is B+. Uiteindelik toets die hospitaal se patoloë weer sy bloed, en die Bloedbank toets dit vier keer. Die uitslag verstom ons. Simon het ’n rare variant: hy val wel in die B-bloedgroep, maar sy rhesisfaktor is negatief indien hy bloed ontvang en positief indien hy bloed skenk! Dit beteken dat hy wel bloedplaatjies van my kan ontvang, maar nie ander bloedprodukte nie. Toe die verwarring finaal uitgesorteer is, begin hulle darem om vir hom bloed te gee.

Susan kom gedurende die middag weer terug van die huis af nadat sy die oggend eers weer ’n bietjie werk probeer inkry het. Wouter het op die koop toe die oggend by die skool siek geword, en Martilene Buckle moes spesiaal skool toe ry, hom dokter toe vat, help om (sonder mediese fonds-kaart of rekening) medisyne te kry vir mangelontsteking (hy het homself vooraf reg gediagnoseer), en hom weer terugbring huis toe. Goeie bure is goud werd!

Ons afspraak met Mariana Kruger is vir 17h15, en – kan jy dit glo? – om 17h15 neem sy ons na haar spreekkamer toe. Ons luister met opgehoue asem hoe sy bevestig dat Simon inderdaad die Algemene Akute Limfobastiese Leukemie (common ALL) het. Die goeie nuus is egter dat hulle vasgestel het dat hy die makliker behandelbare variant, die sg pre‑pre‑B‑sel variant, het. Dit verklaar hoekom sy liggaam so bo verwagting goed op die behandeling reageer. As dit so aanhou, kan hy dalk al teen Vrydag vir die naweek huis toe gaan, en Simon is baie opgewonde daaroor! Dit is egter dringend noodsaaklik dat hy nog gepakte bloedselle en bloedplaatjies kry om sy rooibloedselle en sy bloed se stolvermoë te begin herstel.

Oupa Ampie en ouma Laetitia het spesiaal hulle vakansie by die Suidkus kortgeknip, en kom kuier Maandagmiddag vir die eerste keer. Teen die aand kom kuier die res van die familie weer – ook oom Ampie (wat vroeg Dinsdagoggend weer Kaap toe moet vlieg) en tannie Lulu (wat al ver swanger is). Ons kom na 21h00 moeg en honger by die huis, en Martilene staan sommer reg met kos ook.

Terug by die huis maak ons reg vir die bed toe ons onthou ons het nog nie ons vriende in Noord-Ierland laat weet van Simon se siekte nie.  Richard Alexander het self 13 jaar terug klierkanker gehad en die stryd eers na ’n jaar se intense behandeling gewen. Hulle het so ’n jaar daarna die eerste keer as gesin by ons kom kuier, en ons het baie oor die siekte en die impak daarvan op ’n mens se lewe gepraat. Ek onthou hoe Richard herhaaldelik gesê het dat ’n mens se lewe na kanker nooit weer dieselfde is nie – daarna besef jy hoe kosbaar elke dag is. Na sy stryd met kanker leef Richard selfs meer as ooit tevore sy geloof uit, want elke dag is ’n geleentheid – ’n geleentheid wat hom dalk nie weer voordoen nie, ’n geleentheid om iemand te beïnvloed, ’n geleentheid om die Here te dien.

Ons het Richard jare terug as studente ontmoet toe ons saam opgrawings gedoen het in Israel, en het deur die jare heen noue kontak gehou terwyl ons getroud is, begin werk het, en gesinne gekry het. Ek en Susan, Richard en Valerie is toevallig al vier deel van die goeie oes van ’63. Daarom het ons jare terug al afgespreek dat ons ons veertigste verjaarsdae saam in Noord-Ierland sal vier, en het ons toe ook verlede Julie sak en pak vir drie weke op die Alexanders gaan afpak. Agterna gesien is ons nou selfs nog meer dankbaar dat ons oё toegeknyp het en dit maar gedoen het, want nou kan ons Simon herinner aan hoe goed dit nou met Richard gaan. “Onthou, daar is hoop!”

Ons het geweet dat Richard en Valerie van ons sou verwag om sulke soort nuus met hulle te deel, maar met die dolle omkeer van ons lewens het ons nie vroeër daarby uitgekom om hulle te bel nie. Ons het ook verwag dat hulle (soos ons) geskok sal wees, maar ons kon nie dink hoe erg nie. Hoe langer ons praat, hoe erger raak dit. Richard hou aan vrae vra, maar kan amper nie ’n sin klaarmaak nie. Naderhand sê hy: “Ons is veronderstel om julle te troos, maar nou troos julle ons.” Natuurlik, want ons het al tyd gehad om die skok te verwerk, en ons is by Simon, ons kan hom sien en dophou en ons weet wat die dokters doen. Valerie huil en praat deurmekaar, en praat ons (en haarself) moed in: “You’ll see, Simon will make it, he’s a strong wee pet!” Maar Richard en Valerie se reaksie ontstel ons ook weer.

Dinsdag 10 Februarie 2004

Ek en Susan het vroeër al besluit om vandag, na ons opvolgafspraak met Mariana Kruger, na ons normale roetine terug te keer en ons werk te hervat. Dit is ook nodig vir 'n mens se welstand. Ek gaan dus terug universiteit toe, en kry ’n klomp boodskappe van ondersteuning op my e-pos. Ek kan egter glad nie Dinsdag by Simon uitkom nie.

Susan se Dinsdagoggend is oop, maar sy moet die middag weer begin musiekles gee. Sy ry vir die oggend deur na Simon toe. Abrie dring daarop aan om saam te gaan voordat hulle Woensdagoggend in die teater vir Simon ’n Port-a-Cath inplant, en Susan reёl dus dat hy skool mis. Laetitia het Maandagaand by oom André en tannie Chrisanda geslaap, en is vroeg-vroeg al weer by haar tweelingboetie. Op pad Centurion toe lui Susan se selfoon – dis Simon (en Laetitia) wat ewe oopgewonde bel, want Simon se witbloedtelling is nou al af na 7000 toe! Hy is baie opgewonde, want dit voel vir hom hy maak vordering. Kanker kan gewen word!

Dinsdagmiddag daag die hele wêreld nog op om Simon in die hospitaal te besoek. Dr. Johann Beukes is besig om vir hom ’n gebed toe doen toe Mamma en Abrie instap.  Simon is heel vrolik en opgewonde om sy ouer boetie te sien. Hulle begin dadelik Playstation gesels en speel, en Abrie raak merkbaar rustiger met die stukkie normale omgang met sy siek boetie.  Na twee ure is Simon moeg en Mamma, Abrie en Laetitia vat die pad huis toe.

Die middag kom kuier Oom Bertus vir die eerste keer en bring vir Simon ’n Lego-gedrog wat sy pa nooit vir hom sou gekoop het nie! Simon is baie bly daaroor (dis waarvoor ’n kind ooms en tannies nodig het). Carmen de Jager (eintlik eerder Abrie se skaakmaat) kom kuier en bring vir Simon ’n vergroting van die foto wat hulle Desember by die SA Kampioenskappe van ons gesin geneem het – die drie kinders al drie met hulle gebleikte hare! Oupa Wouter en ouma Ierene het die lang pad van die Kaap af teruggery, en gaan sê eers vir Simon hallo voordat hulle moeg-moeg huis toe gaan. Tannie Marian kom spesiaal hospitaal toe om vir Simon te bad, want hy is skaam vir die susters en kan nie op sy eie die drup en die baddery saam hanteer nie. Sy bring ’n 500-stuk legkaart en die gogga byt Simon behoorlik.

Woensdag 11 Februarie 2004

Ek en Susan laai gou al die kinders by die skool af voordat ons koers kry hospitaal toe. Albei van ons het ons klasse vir die oggend gekanselleer sodat ons by Simon kan wees vir die operasie. Dis nie ’n groot operasie nie, en behels eintlik net dat ’n klein apparaatjie (hulle noem die produk ’n Port-a-Cath) in die bors ingeplant word. Dit het ’n dun pypie wat met ’n boog gelei word en in ’n aar insteek, terwyl die klein plastiekapparaatjie self ’n metaal -“vloer” en ’n silikon-“dak” het. Dit word net onder die vel op die bors gemonteer, en dien daarna as ’n gerieflike “poort” om medisyne binne-aars toe te dien en bloed te trek sonder ’n drup aan die hand of ’n naald in die buig van die elmboog. As die pasiënt later huis toe gaan, is daar geen drade wat los hang nie, en dit is ook ’n baie veiliger manier om infeksies te voorkom. Dit is eintlik so ’n verligting, want Simon se aartjies is al so verswak en sy armpies vol blou kolle van al die naalde.

Die dokters en hospitaal is vroeër gereed as wat hulle met ons afgespreek het, en bel ons op die selfoon terwyl ons van die kar af na die hoofingang stap om te sê dat hulle vir ons wag.  Simon is heel rustig voor die operasie, en ons ontmoet die chirurg en die narkotiseur voordat hulle Simon in die teater instoot. Na so ’n uur stoot hulle hom weer terug in die saal in. Sy gesig is geel gevlek van een of ander middel, sy pupille is groot en hy is maar deurmekaar en onplesierig.

Dis alles normale nagevolge van narkose, en gister was dit Simon se kamermaatjie, Duanroux Dennison, se beurt vir dieselfde prosedure. Hy was positief onplesierig daarna, en ons het gehoop dat Simon beter sal reageer. Maar narkose bly narkose, en kinders bly kinders. Simon is klaerig en huilerig. Dis nie vir ons lekker om ons kind so te sien nie, al verstaan ons dat dit die lewe vir ons almal later makliker gaan maak. Mamma speel vir hom kitaar en hy begin geleidelik ontspan.  Geleidelik word Simon darem al beter, en so net na die middaguur keer ons terug huis toe. Susan gee les, en ek sit vinnig vir die Monza nuwe bande aan (sodat ons veiliger is as ons vinnig hospitaal toe wil jaag).

Ek woon die aand ’n skaakvergadering by, en kom moeg terug by die huis. Vandag is vir ons as ouers ’n “af”-dag. Om ons gewoonlik plesierige seuntjie so vaal en flou te sien, maak ons bang. Dit laat ’n mens aan al die negatiewe dinge dink. Abrie en Laetitia het ook ’n slegte aand en hulle begin ’n vreeslike geveg oor kleinighede.  Ons besef dat hulle ook maar met ’n groot klomp spanning sit wat op hierdie manier na vore kom. 

Susan het egter net nie krag vir hierdie gewone huismoleste nie.  Toe sy op ’n slag verby Simon se kamer stap en die Doom-blik waarmee ons sy spinnekop wou vermoor, daar sien staan, gaan die sluise oop.  Ons besluit daarom om die volgende oggend ’n gesinsvergadering te hou sodat ons net ’n bietjie kan gesels oor alles wat besig is om met ons te gebeur.  Hierdie nagmerrie het so vinnig gekom dat ons nog nie kans gehad het om as gesin saam daaroor te besin nie.  Met ons vreeslike gehardloop het selfs ons vroegoggend-boekevat in die slag gebly.

Donderdag 12 Februarie 2004

Simon se witbloedtelling was gister af na 2750.  Dis nou weer te laag en hulle begin met medikasie om dit weer ’n bietjie op te bring. Ons leer dat die daling in die hoë witbloedtelling nie net goeie nuus is nie. Daar is twee belangrike elemente wat saam ’n mens se immuunstelsel moet in stand hou: die teenliggaampies wat deur jou lewer vervaardig word, en die witbloedselle wat deur jou beenmurg vervaardig word. Die daling in die witbloedselle beteken dat sy liggaam nou skielik baie min weerstand kan bied teen kieme, veral omdat 90% van die witbloedselle ook nog nuttelose kankerselle is.

Dit beteken natuurlik dat ons van nou af Simon se besoekers, sy kos en sy omgewing sal moet beheer. Die risiko dat allerlei kieme vir hom infeksies kan gee, is skielik baie groot. Daarby beplan die dokter om hom Vrydag sy eerste ernstige dosis chemoterapie te gee. Dit sal sy gestel (immuunstelsel) nog verder afbreek en hom baie kwesbaar maak vir siektes en virusse. Hy kan slegs vrugte met skille eet, en dan eers nadat ons die vrugte afgeskil het. Hy mag in geen openbare gebied tussen baie mense beweeg nie. Ons wil dus ook nie hê dat kinders (wat by die skool en winkels tussen baie kieme beweeg) of enigiemand met ’n veraf nies hom sal besoek nie. Ons almal se lewens gaan dus ingrypend verander.

Susan neem vir Simon George of the jungle II op DVD uit, want die hospitaal het net baba-flieks.  Vanoggend kan sy nie wag om by Simon uit te kom nie, want die vorige dag het almal maar op ’n laagtepunt gevang.  Dit gaan goed met Simon.  Hy is al meer gewoond aan die Port-a-Cath.  Eers kom Oupa en Ouma Barnard kuier en net as hulle wil loop, daag Oupa en Ouma van Wyk op.  Hulle bring weer allerhande bederfies, maar vir Simon is dit net die grootste vreugde om al sy eetgoed wat hy by besoekers kry, aan die volgende besoekers uit te deel.

Vrydag 13 Februarie 2004

Vrydagoggend moet almal in die gesin eers skool en werk agter die rug kry voordat ons na Simon toe kan gaan. Deur die loop van die dag reël ek met Mariana Kruger dat Simon se behandelingsplan by die mediese fonds ingedien word sodat hy in die Onkologie-program opgeneem kan word. Heelwat mense het my al gewaarsku oor al die fynskrif wat kan beteken dat ek ’n groot deel van Simon se behandeling self sal moet betaal (en die totale behandeling kan na beraming uiteindelik omtrent ’n half miljoen Rand kos). Na skool moet ek eers vir Wouter ’n hemp en baadjie vir die Valentynsbal gaan kry (hy gaan saam met Charlene Kotzé, die hoofmeisie). Die gevolg is dat ons eers teen ongeveer 17h00 by die hospitaal aankom.

Dit gaan goed met Simon, en dr. Lourens de Jager (wat vir Mariana Kruger instaan terwyl sy in die Kaap is met ’n kongres) gee toestemming dat ons Simon vir twee ure uit die hospitaal kan uitneem. Omdat sy immuunstelsel so verswak is, moet ons net versigtig wees om hom nie onnodig aan kieme bloot te stel nie. ’n Ander onkoloog by Unitas-hospitaal, dr Charmaine Jacobs, stel dit treffend teenoor Duanroux se ma: “Onthou, hy is ’n agtjarige seuntjie wat deel is van ’n gesin en deel is van ’n breёr gemeenskap, en wat toevallig nou kanker het. Ons gaan hom van die kanker genees, en dan is hy nog steeds ’n agtjarige seuntjie wat deel is van ’n gesin en deel is van ’n breër gemeenskap.” Die behandeling van die kanker is net een aspek van hierdie kinders se welstand.

Ons gaan na die Centurion-meer toe en bestel Pizza en melkskommel. Oom Bertus en tannie Ronel kom ook, en bring vir Hendrik en Renée saam. Hulle gee vir ons die slegte nuus dat hulle goeie vriend in Carletonville se gemeente, Thinus van der Merwe, tans ernstig siek is met ingewandekanker. Thinus en Chrizelle is self nog jonk - hy is maar 40 jaar oud. Hierdie siekte vra nie wie jy is, hoe oud jy is, of wat jy glo of doen nie. Dis juis so ’n verskriklike siekte omdat dit enigeen tref, sonder aansiens des persoons.

Simon, Wouter (wat mangelontsteking gehad het) en Abrie dra mediese maskers om kieme uit te hou, en die mense staar hulle nogal aan. Maar dit maak nie saak nie, want almal geniet dit so vreeslik baie om net ’n slag weer (amper) normaal buite die hospitaal te leef. Om 20h00 besorg ons Simon weer terug by die hospitaal. Hy kry sy medisyne, ons kuier ’n rukkie en ry toe na Oupa en ouma Van Wyk, by wie ons die nag oorslaap.

Saterdag 14 Februarie 2004

Dit reën toe ons Saterdagoggend hospitaal toe ry, en dr Andrie van der Merwe van Reach for a Dream bel ons langs die pad om te laat weet dat die beplande helikopterrit gekanselleer is. Simon kry weer bloedplaatjies voordat hy vir die eerste keer chemoterapie sal ontvang. Daar is egter ’n probleem omdat een van die middels wat deel vorm van die chemoterapie (Daunorubicin) op die oomblik nie beskikbaar is nie. Hulle sal egter al die ander medikasie wel toedien, en dan vroeg volgende week kyk of hulle wel van die Daunorubicin in die hande kan kry, en of hulle dalk ’n alternatiewe middel moet gebruik.

Lourens de Jager verduidelik vir ons en Simon dat hulle vir die eerste keer ’n “lumberpunch” (LP) gaan doen. Daarvoor moet Simon in die fetusposisie gaan lê en sy rug krom trek sodat hulle ’n naald tussen die rugwerwels kan insteek. Die prosedure is soortgelyk aan die epiduraal wat hulle vir vrouens gee wanneer hulle geboorte skenk. Hulle maak hom eers aan die slaap, trek dan vog uit die rug wat vir die aanwesigheid van kankerselle ondersoek kan word, en spuit dan chemo in die rug in om enige kankerselle in die rugstring of brein dood te maak.

Die prosedure loop baie suksesvol af, en Lourens sê dat dit in die vervolg nie nodig sal wees om Simon onder verdowing te plaas wanneer hulle weer ’n LP wil doen nie. Hy verstaan so mooi, hy is so rustig en hy werk so mooi saam dat hulle dit sommer sal kan doen terwyl hy net so stil lê. Ja, Simon is sommer vol grappies met die dokter. Toe die dokter net mooi reg is om die naald in te steek, sê Simon: “Ek moet nou eers toilet toe gaan, anders spuit ek dokter sopnat!”

Die dokter maak net mooi seker dat Simon weer wakker en reg is, en gee toe opdrag vir die susters om al die regte medisyne en voorskrifte bymekaar te kry. Hulle moet vir ons instruksies neerskryf, dan kan ons Simon vir die eerste keer in ’n week huis toe vat. Dis baie vroeër as wat ons aanvanklik verwag het, en almal is baie opgewonde. Maar dit vat nogal tyd om al die klere, kaartjies, presente en eetgoed op te pak. Daar is soveel mense wat so goed is vir ons!

By die huis gekom moet ons seker maak dat die honde glad nie meer in die huis kan kom nie. Ons kan die twee katte nie uit die huis hou nie, en ons kan ook nie heeltyd al die hare opvee nie. Simon moet self maar net die katte op ’n afstand hou sodat hulle asem nie in sy gesig kom nie. Omdat dit gereën het, is dit gelukkig nie vir Simon te veel van ’n versoeking om buite in die tuin te kom nie.

Ons neem ’n video uit om die kinders te bederf, en skakel vir die eerste keer in ’n week ons selfone af voordat ons gaan slaap.

Sondag 15 Februarie 2004

Ons twee blou-ogies, Abrie en Simon, is soos gewoonlik eerste op – om rekenaar en Playstation te speel! Ek preek by my peetpa, oom Kobie Coetzee, in die Presbiteriaanse Kerk Randburg, en laai op pad soontoe eers vir Wouter, Abrie en Laetitia by ons kerk af. Oom Kobie vertel ook vir sy gemeente van Simon se siekte, en na die diens steek hulle vir hom kersies op as simbool van hulle voorbidding vir hom. Oom Boet en tannie Lorraine Williams vertel my dat oom Boet se kanker tans volkome onder beheer is, en dat hulle dogter ook van haar borskanker genees is (nadat sy jare gelede ook ’n melanoom gehad het). Net so is daar ander gemeentelede wat kom vertel dat hulle self of familielede van kanker genees is. Dit maak ’n mens se oё weer oop vir die werklikheid: kanker is ’n baie algemene siekte, en die meeste pasiënte oorleef dit.

’n Hele paar mense praat ook met my oor dieetaanvullings. Nie dat dit ’n mens gesond maak nie, maar dit help tog wel om ’n mens se gestel op te bou. Ek dink dat dit vir Simon en vir ons hele gesin nodig is, en ons sal daaraan nog ernstige aandag moet gee.

Simon is onder kwarantyn, en daarom bly hy en Susan by die huis. Hulle hou op hulle eie kerk, en beleef weer hoe God sommer direk met ons praat.  Die dagstukkie vir vandag gaan oor Josef.  Al die slegte goed het met hom gebeur, maar God het ’n plan gehad.  So gebeur slegte goed ook met ons, maar God sal alles goed laat uitwerk.  Hulle gesels en Susan vertel vir Simon van al die gebeure in ons lewe wat ons gewys het dat God vir ons sorg.  Simon kies om as slotsang Op berge en in dale te sing.

Teen die aand gaan Susan na ons eie gemeente se erediens toe, en ek saam met Wouter na Dewald-hulle se gemeente. Hierdie buurgemeente van ons (die NG Kerk Weltevredenpark) het selfs vir Simon ’n mandjie eetgoed en kaartjies gestuur. Weer eens word ek bewus van die ondersteuning en voorbidding van soveel mense in die gemeenskap. ’n Mens voel skoon verleë en jy weet naderhand nie wat om te sê nie, en tog is jy baie dankbaar.

Maandag 16 Februarie 2004

Wag en spring. Dis nou maar hoe dit gaan. Vanoggend wag ons maar net vir ’n oproep van Mariana om ons te laat weet wanneer sy vir Simon chemoterapie kan gee, en dan moet ons in die kar spring en hom hospitaal toe vat. Dit is bitter moeilik om enigiets te beplan. Ons gaan laai die kinders by die skool af en gaan ry vir die eerste keer in twee weke weer ’n kort entjie fiets. Ons het intussen ook al besluit om hierdie jaar nie meer te gaan Argus ry nie – dis net onmoontlik om vooruit te sê wat ons omstandighede sal wees, en ons kan nie vir vyf dae van die huis af weg wees nie.

Mariana bel net voor ons terug is by die huis, en vra dat Simon om 16h00 by die hospitaal moet wees. Nie een van ons kan daardie tyd weg van die werk af wees nie, en ons reël dat ek hom vroeër by die hospitaal sal aflaai. Die verpleegsters is onrustig toe ek daar aankom en Simon alleen agterlaat, want dit gaan maar seer wees. Ek verduidelik dat Oupa en ouma Barnard darem op pad is om Simon by te staan, en jaag met ’n swaar gemoed terug Johannesburg toe.

Toe ek tussen klasse deur om 18h30 bel om te hoor hoe dit gaan, en of ons Simon na die tyd weer kan huis toe vat, vertel ouma Laetitia dat Simon vroegmiddag ’n inspuiting in die bobeen gekry het wat maar seer was en sy been verlam het. Hy was egter dapper en het die lamheid weggeloop op en af in die hospitaalgange. Hulle het so pas met die binne-aarse chemoterapie begin, en dit sal so ’n uur neem vir die volle dosis om in te loop.

Teen 21h30 kom Susan uiteindelik terug by die huis met Simon en Laetitia (wat skoon van haar skaakles vergeet het). Ek storm angstig kar toe – net om Simon met ’n breë glimlag te sien uitklim. “Ek was glad nie eers naar van die chemo nie, Pa!” Onderkry is min, en ons is baie dankbaar. Maar ons hoop net dit hou.

Dinsdag 17 Februarie 2004

Ons gesin kom nooit by ’n dokter nie, so gesond is ons. Hoekom moet die pes ons nou skielik in sewe soorte stormloop? Wouter is pas gesond van die mangelontsteking, nou is dit Abrie met ’n vreeslike verkoue. En die verpleegsters het ons gewaarsku dat verkoue by ’n normale persoon baie vinnig dubbele longontsteking word by ’n kankerpasiënt. Die gevolg is dat ons almal histeries hande was met antibakteriële seep, en dat Abrie met ’n mediese masker deur die huis loop en ’n gesonde afstand tussen hom en Simon hou.

Susan ontvang besoek van ’n vriendelike dame wat dieetaanvullings verkoop. Ons goeie vriendin, Karin Scholtz, daag met ’n inkopielys op en dring daarop aan om vir Susan inkopies te gaan doen. Dit help ontsaglik baie, want dinge gaan selfs doller as gewoonlik in die huis. Laetitia moet self sonder sukses spook met nog ’n simpel OBE-taak, en Susan bel naderhand die onderwyseres om te sê dat dit net eenvoudig nie sal klaar wees nie. Amen. Wouter (in sy matriekjaar) en Abrie moet maar self sien kom klaar. Ons hoor dat hulle toets geskryf het, maar hou glad nie tred met watter toets wanneer nie. Wouter, Abrie en Laetitia aanvaar self verantwoordelikheid vir hulle skoolwerk, en ons kan maar net vertrou dat dit met hulle sal goed gaan.

As die son sak, storm die spoke op Susan af. Sy sukkel om die spanning van onsekerheid en die verantwoordelikheid vir Simon se gesondheid saam met al die gewone druk te hanteer. Toe ek na 22h00 by die huis kom, is sy maar emosioneel. Sy eet weinig, en slaap (ten spyte van ’n slaappil) uiteindelik ook maar min.

Woensdag 18 Februarie 2004

Ek gaan vroegoggend universiteit toe, maar kom gou na my klas huis toe om vir Simon hospitaal toe te vat. Ek bel die mediese fonds net om seker te maak dat Simon inderdaad nou al op die onkologieprogram geregistreer is. “Nee, jammer, ons het nie die dokter se behandelingsplan ontvang nie.” Dis natuurlik nie presies wat ek wil hoor nie, want ek sal nie self vir die behandeling kan betaal nie. Ek verduidelik dat die dokter reeds Vrydag (13/2) omtrent 14h00 die behandelingsplan na die mediese fonds deurgefaks het. Sy het my direk daarna gebel en ’n kopie aan my gefaks. Die dame is vriendelik en onderneem om die saak te bespoedig en my terug te bel.

Ek wag, want ek wil nie hospitaal toe ry voordat ek bevestiging het dat die mediese fonds die behandeling goedkeur nie. Maar wag het ook perke, en ’n halfuur later bel ek weer. Dié slag praat ek met ’n ander dame, wat belowe om my boodskap aan die eerste dame te gee en te vra dat sy my terugbel. Niks gebeur nie, en my bloeddruk styg. Toe Susan terugkom by die huis, is ek steeds daar, en dit krap haar om. “Simon moet bloed en medisyne kry!” Ek besluit om maar in elk geval te ry, en die soekery na die hek se sleutel veroorsaak amper dat ek en Susan mekaar in die hare vlieg. Nou moet die klein dingetjies in die lewe reg loop!

By die hospitaal moet ek weer by Opnames registreer, en ons bel dus weer die mediese fonds. Ek praat met die derde dame op een dag. Dis mos waarvoor inbelsentrums ontwerp is – om te verseker dat die klant nie twee keer na mekaar met een en dieselfde persoon kan gesels nie. So kan niemand verantwoordelik gehou word vir gate in die kommunikasiestelsel nie. Maar nou praat ek met dieselfde dame as Vrydag, en ook dieselfde een vir wie Mariana Vrydag die behandelingsplan deurgefaks het. “Nee, daar is Vrydag geen behandelingsplan ontvang nie.” “Ek hoor so, maar ek het vanoggend net na 11h00 ’n kopie deurgefaks.” Na ’n gesoek op die rekenaarstelsel vind sy dit, maar dis ook nie in orde nie. Dis dan nie op die mediese fonds se vorm ingevul nie, en die dokter het ook nie die koste van elke medisyne op die drie bladsylange behandelingsplan ingevul nie.

Ek vererg my skoon uit my bloedgroep uit. Dit kan darem regtig nie die dokter of die ouer se verantwoordelikheid wees om die koste van elke medisyne wat oor die volgende drie jaar toegedien sal word, op ’n vorm in te vul nie! Dit lyk vir my of die mediese fonds nie verstaan dat ’n mens onder hierdie omstandighede genoeg spanning dra nie – jy wil nie nog die indruk kry dat daar die hele tyd ’n verskoning is om die pasiënt nié in die onkologieprogram op te neem nie. Die dame het die boodskap duidelik en ondubbelsinnig gekry. Dit sal nou egter nog 48 uur duur voordat hulle my sal bel om te bevestig dat Simon wel in die onkologieprogram opgeneem is (ek verwag dat dit terugwerkend sal geld!).

Die verpleegpersoneel is gelukkig heeltemal anders ingestel. Toe Simon afstap in die gang, groet hulle hom almal vriendelik en stuur hom kamer toe. Hy kry kos, hulle neem sy bloeddruk, en toe word die drup met een of ander inspuiting en bloed gekoppel. Oupa Ampie en ouma Laetitia kom om Simon by te staan sodat ek weer kan terugkeer huis toe. Simon kry weer die inspuiting in die been, maar dié keer is dit darem nie weer so seer nie.

Na die behandeling gaan Simon saam met oupa en ouma Barnard na hulle huis toe. By ons huis in Weltevredenpark is daar te veel kinders en te veel kieme – nou het Abrie al weer ’n vreeslike keelinfeksie.

Met Simon veilig by sy oupa en ouma kan ons ook weer ’n slag ontspan. Ek het ’n kerkraadsvergadering en kom eers laat by die huis, maar vir die eerste keer in ’n lang ruk het Susan tyd om aan die ander drie kinders aandag te gee. Laetitia waardeer Susan se hulp met haar voorbereiding vir ’n toets, Abrie dra sy dialoog vir Susan voor, en Wouter kom terug van die revue-oefening en doen verslag oor ’n seer been danksy ’n minder grasieuse poging om ’n meisie in ’n danspassie deur die lug te gooi.  Ons slaap dié nag soos klippe, en gaan Donderdag ons normale gang terwyl Simon by Ouma en Oupa kuier.

Vrydag 20 Februarie 2004

Vrydagoggend vat Oupa en ouma Barnard Simon hospitaal toe. Hy kry weer bloedplaatjies, en hulle doen die eerste opvolgtoets vir kanker in die beenmurg. Toe Simon in die hospitaal opgeneem is, het hulle sy beenmurg getoets en gevind dat dit 90% kankerblaste bevat. Mariana het toe verduidelik dat dit normaal is, maar dat hierdie persentasie na 14 dae met minstens 50% moet daal, en na 28 tot minder as 5% moet afneem. Die uitslag van die beenmurgtoets is dus van groot belang om te bepaal hoe hy op die behandeling reageer en wat sy prognose is.

Die beenmurgtoets behels dat hulle die pasiënt onder verdowing plaas en letterlik ’n gat in sy rug boor tot binne-in die heupbeen. Dit laat ’n oop wond wat deeglik ontsmet en toegebind moet bly, en wat dikwels lank daarna seer is. Simon is egter so rustig dat die dokter net die helfte van die gewone dosis medisyne gebruik om hom te sedeer.

Die Laspar-inspuiting in die been loop egter nie so voorspoedig af nie. Net 20 minute nadat die susters die pleister met spesiale salf opgeplak het, gee hulle hom die inspuiting. Dis seer en maak sy been lam. Oupa Ampie is glad nie beïndruk met die manier waarop sy kleinseun geboelie word nie.

Na die hele prosedure bring Susan weer vir Simon huis toe, maar hy is maar pap. Ons neem ’n video uit om almal se aandag ’n bietjie af te lei, maar Simon kan net nie sy lê kry nie. Die wond waar hulle die Port-a-Cath ingeplant het, is seer, en ook die area onder die vel waar die Port-a-Cath se pypie tot in die aar loop. Hy loop die hele tyd met sy kop so skeef na sy skouer toe, en beweeg moeilik. Susan gee naderhand vir hom pynmedisyne, en ons gaan almal redelik laat bed toe.

Saterdag 21 Februarie 2004

Ek en Susan besluit om weer ’n slag saam met ons vriende van die Spar-groep te gaan fiets ry, en is dus reeds voor 06h00 uit die huis uit. Ons ry Randfontein toe, drink koffie by die Wimpy en ry terug huis toe. Halfpad terug lui my selfoon en ek antwoord sommer so in die ry (dis nie onwettig vir fietsryers nie; ’n mens hoor net nie so goed nie!) Dis Mariana wat bel met die uitslae van Simon se beenmurgtoets: “Dis skoon!”, sê sy. “Wat bedoel jy met ‘Dis skoon’?”,  vra ek. “Daar is geen kankerselle meer in die beenmurg nie.” Ek kan dit nie glo nie: “Niks nie? Ek dog dan jy het gesê die persentasie moet in hierdie stadium net minder as 50% wees?” “Wel”, antwoord sy, “dit is nou nul. Simon is reeds in remissie.”

Dit is ongelooflike nuus. Dit is ’n algemene reaksie dat mense wat slegte nuus hoor, dit aanvanklik wil ontken. “Dit kan nie waar wees nie. Dit kan nie met my gebeur nie.” Wel, toe Simon met leukemie gediagnoseer is, was ons nie vir ’n oomblik in hierdie tipiese ontkenningsfase nie. Ons het ook nie gevra hoekom dit met ons gebeur nie – daardie soort vraag help eenvoudig nie. Maar nou wil ek in ontkenning gaan – is dit moontlik dat die kanker so vinnig kan verdwyn?

En tog is die oorweldigende gevoel een van dankbaarheid. Die Here het ons gebede verhoor. Simon reageer wonderlik op die behandeling, en dit maak sy prognose net soveel beter. Ek en Susan is in die wolke oor die nuus. Die Spar-groep ry (heeltemal anders as gewoonlik) vandag baie rustig, want party ry Sondag ’n resies en party begin oor ’n week met die moordende Cape Epic (’n bergfietstoer wat meer as ’n week duur). Nadat ons die nuus van Simon se beenmurgtoets gekry het, kan ek en Susan egter nie langer rustig ry nie, en ons jaag terug huis toe.

Laetitia bel ons ook op die pad terug huis toe. Sy kla dat Simon so teen 09h00 nog steeds nie wil opstaan nie, en dat hy nie wil eet nie. (Sy is mos haar broer se hoeder, sien?) Dit klink natuurlik nie goed nie, en spoor ons net verder aan om maar die krane oop te draai op pad huis toe.

Tuisgekom lyk Simon glad nie goed nie. Pap en bleek en knieserig. Hy wil nie eet nie, en hy wil nie drink nie. Susan neem sy koors: 37.8 grade Celcius. Ek bel vir Mariana, en sy sê ons moet hom dadelik hospitaal toe vat – dis reeds die begin van sepsis. By die hospitaal word sy bloed getrek om te bepaal watter soort infeksie dit is, en word hy weer aan die drup gekoppel. Hy kry nou antibiotika om die infeksie te genees. Sy oё hang halfmas en hy bly maar Droopy. Hy praat nie onnodig nie, en waardeer ook nie ons geselskap nie. Na ’n ruk laat ons hom maar in die sorg van die verpleegpersoneel en keer met ’n swaar gemoed terug huis toe. Die nuus dat daar geen kankerselle meer in sy liggaam is nie, was so wonderlik. Maar die gevare van die infeksie maak veral vir Susan baie bang. Dankie tog vir Saterdagaand se kuier saam met Bertus en Ronel – dit help ons om ’n bietjie te ontspan.

Sondag 22 Februarie 2004

Mariana het reeds vroeër in die week met ons afgespreek om ons Sondag weer by die hospitaal te ontmoet wanneer Simon die volgende dosis chemoterapie en ’n Laspar-inspuiting in die been moet kry. Ons ry dus vroegoggend weg by die huis en gaan sommer in Rooihuiskraal kerk toe om teen 10h00 by die hospitaal te kan wees. Ons het baie dankbaarheid in ons harte, en ’n foonoproep douvoordag na Simon toe het bevestig dat hy al klaar beter voel.

Dit gaan inderdaad baie beter met Simon, maar hy is maar nog papperig en bleek. Elke kort-kort gaan lê hy maar net weer, en hy moet dus in die hospitaal bly terwyl ons na sy Oupa Wouter toe gaan om dié se verjaardag te vier. Mariana het hom darem besoek, en is tevrede met sy vordering. As alles aanhou goed gaan, kan hy dalk weer teen Dinsdag vir ’n dag of wat huis toe gaan. Ons hou duim vas dat hy Donderdag, op sy en Laetitia se twaalfde verjaarsdag, by die huis sal wees!

Dinsdag 24 Februarie 2004

Ons het Simon Maandag glad nie gesien nie. Ek moes Maandagmiddag deurry Pretoria toe, maar het nie tyd gehad om óf by Simon óf by oupa Wouter wat verjaar het, uit te kom nie. Ons het maar net gebel, en was dankbaar om te hoor dat dit goed gaan.

Susan ry Dinsdagoggend deur hospitaal toe om Simon te kom haal. Dit vat uiteindelik baie lank voordat sy met ’n seuntjie en sakke vol medisyne kan terugkeer huis toe. By die huis moet sy egter ontdek dat die antibiotika wat die dokter voorgeskryf het, nie in die sak is nie. Sy gaan toe maar apteek toe om dit daar te kry (selfs al betaal die mediese fonds dit dan nie uit die onkologieprogram nie). Wat kos die pakkie pille? R2 137! Teen daardie prys kan ons dit nie self betaal nie, dus ry ek inderhaas vir die derde dag agtereenvolgens Pretoria toe. Dít is waarvoor ’n mens ’n mediese fonds het!

Woensdag 25 Februarie 2004

Vandag is daar ’n skaaktoernooi by die skool, en Genl de la Rey speel teen drie van die sterkste skole in die omgewing. Sonder Simon op bord 1 sal dit moeilik gaan, maar Mariana sê Simon kan maar gaan speel. Simon bel my twee keer op die selfoon om te hoor waar ek bly, en toe ek by die huis kom, staan hy en wag in sy skoolklere – met ’n masker om die kieme uit te hou.

Dis die eerste keer in amper drie weke dat Simon by die skool kom en sy maats sien. Hy is baie opgewonde en sy maatjies ook. Toe mnr Anton Enslin almal verwelkom, sonder hy vir Simon uit. Die kinders klap sommer hande en ek voel die knop in my keel, maar ek sien ook hoe Elisabeth Sonnekus die ekstra blink uit die oё wegknip. Daar is so baie ander mense wat ook bly is om hom weer te sien, en dit herinner my weer aan dr Charmaine Jacobs se woorde: “Hy is ’n twaalfjarige seuntjie wat deel is van ’n gesin en ’n gemeenskap, en wat net op die oomblik kanker het.”

Simon speel vandag op bord 3 en wen al drie wedstryde met gemak. Laetitia speel in sy plek op bord 1 en geniet dit ook. Sy wen twee rondtes; dis net die spel teen Ian Bakker wat te lank duur en gelykop eindig. Simon is opvallend versigtig om nie dalk onnodig kieme op te tel nie. Hy wil daarom nie te naby aan ander kinders kom nie, en gaan sit tussen rondtes in die Kombi. Net toe ons wil ry, bring Karel Fourie vir hom ’n present. Dis ’n interessante boek met allerhande raaisels en legkaarte en probleme wat ’n mens moet oplos, en met die teruggaan huis toe is daar dus oorgenoeg om hom mee besig te hou.

Donderdag 26 Februarie 2004

Dis die tweeling se twaalfde verjaarsdag! Maar dis ’n anderster verjaarsdag, en ons is baie moeg. Toe die wekker 06h00 afgaan, vat dit ons ’n rukkie om te onthou dat ons vir Simon en Laetitia moet gaan sing. Laetitia is so wakker soos ’n spook en doen nie te veel moeite om te maak of sy nog slaap nie. Ons kry die twee ouers seuns en staan so tussen die twee kamers in die gang en sing. Simon kry ’n nuwe Monopoly present, en al vier kinders is opgewonde daaroor. Maar Laetitia is vies, want sy moet nog eers die hele dag lank wag, want haar present (’n behoorlike musiekstander) word eers teen laatmiddag afgelaai en ons wil nie vooraf vir haar sê wat die present is nie.

Simon bly weer alleen by die huis terwyl ek die ander kinders skool toe vat en self kantoor toe gaan. Na skool word die Monopoly ingewy, en Laetitia se stander daag uiteindelik op. Sy is darem baie bly daaroor, want sy moes lank met ’n lendelam goedkoop stander oor die weg kom. Wat sy natuurlik nie weet nie, is dat haar ma net so bly is, want nou kan Susan háár stander weer vir haarself hou.

Dis baie lekker dat Simon op sy verjaarsdag by die huis is, maar dit is maar ’n raar verjaarsdag. Daar is nie eintlik mense nie, en die dag gaan eintlik maar op in al die ander dinge wat gedoen moet word. Gelukkig is daar gawe mense wat vir die tweeling koek bring, en dis omtrent al wat ons aan die verjaarsdag herinner. Ek het die aand nog ’n skaakvergadering en kom na 22h00 by ’n doodstil huis terug. Almal is katswink!

Vrydag 27 Februarie 2004

Mariana Kruger het vroeër gebel en gevra dat Simon Vrydag inkom vir sy volgende behandeling. Dit sou aanvanklik Saterdag wees, maar die apteek doen dan voorraadopname en dus sou die hospitaal dan nie die medisyne wat hulle nodig het, kon bekom nie. Susan skuif dus haar kleuterskoolklasse en vat vir Simon hospitaal toe.

Vandag se behandeling sluit absoluut alles in: hy drink nog steeds die Prednisoon-pille, maar kry ook twee soorte binne-aarse chemoterapie, ’n Laspar-inspuiting in die been, én ’n limbaalpunksie (LP). Vir die LP moet hulle hom sedeer, en die dokters is weer verbaas dat hy op ’n halwe dosis reeds in droomland is. Hulle gebruik sommer die kans om hom die seer inspuiting in die been ook te gee, en teen middagete is hulle uiteindelik klaar met al die behandelings.

Simon het dit alles baie goed gehanteer, en voel heeltemal goed toe hy by die huis kom. Elisabeth Sonnekus en Friederike Scholtz kom ’n bietjie partytjie hou, maar daar is nie maatjies vir Simon nie. Die drie meisies gaan speel op ’n stadium krieket buite in die tuin, maar ou Simon mag nie saamspeel nie (uit vrees dat hy ’n skraap of sny opdoen). Ek dink nie ons sal so iets ooit weer aanskou nie: Laetitia speel krieket en Simon is net ’n toeskouer!

Die goeie nuus is darem dat Mariana Simon toestemming gee om Saterdag die Fontainebleau skaaktoernooi te gaan speel. Laetitia is glad nie lus om te gaan speel nie (ons dink dis spanning oor die eerste toernooi van die jaar), maar Simon is baie opgewonde.

Saterdag 28 Februarie 2004

Ek vat die tweeling skaak toe, maar Susan pak eers ’n behoorlike mandjie met kos en pille. Simon mag nie kos uit die snoepie eet nie (uit vrees vir kieme), en ek kry streng instruksies (skriftelik) oor hoeveel van watter pille ek hom op watter stadium moet gee.

In die skaakgemeenskap is daar net soveel mense wat bly is om Simon weer te sien. Terwyl die kinders speel, kry ek kans om met ’n klomp ander ouers te gesels. Ek gesels onder andere met Reinette Roets wat ook in ons gemeente is en wat self onlangs van borskanker herstel het, en kom net weer agter hoe min ek vroeër van haar beproewing verstaan het. Ek kyk hoe klein Andrew Whittet kiertsregop sit en skaak speel, en gesels met sy ma oor die tyd toe hy leukemie gehad het. Andrew was Desember in Susan se seëvierende o/10 Gauteng-span, en het volkome herstel nadat hy drie jaar gelede ook leukemie gehad het. Dit geen ’n mens baie hoop.

Ek moet egter baie ander dinge ook doen terwyl die kinders die hele dag lank skaak speel. Ek verlaat die saal dus om met Elise Steenkamp te gesels, en besluit daarna om gou apteek toe te gaan. Die apteek is baie besig op die laaste Saterdag van die maand, en die toue is lank. Toe ek uiteindelik voor kom, lui my selfoon. Mariette Pretorius sê Simon lyk nie goed nie, en lê en slaap. Ek sê hulle kan hom maar uit die loting laat vir die volgende rondte. Tien minute later bel Mariette weer: ek moet nou maar gou kom; hulle is bekommerd oor Simon.

Toe ek by die saal kom, slaap Simon en Lynne van Rensburg wil weer weet of hulle hom uit die loting moet laat. Hy lyk nie vir my so sleg nie, en ek maak hom wakker. Nee, sê Simon, hy voel nie sleg nie en wil speel. So speel Simon verder, en wen vier van die vyf rondtes wat hy speel. Tussen rondtes gaan lê hy op die verhoog in die saal, maar na die sesde rondte voel hy sleg en gaan lê hy in die kar. Ek voel dat hy begin warm word en onttrek hom aan die laaste rondte. Laetitia wil egter nog speel, en ek vat Simon huis toe. Ek kry Susan halfpad huis toe na haar oefening vir Trinity-skool se musiekrevue, en sy neem vir Simon oor terwyl ek terugry na die skaak toe.

Ek was skaars daar toe Susan weer bel. Simon se temperatuur is hoog. Ek stel voor dat sy hom bad en afkoel. Toe Laetitia se laaste spel klaar is, vertrek ons onmiddelik. Halfpad huis toe bel Susan weer. Sy is hoogs ontsteld: Simon se temperatuur hou net aan styg, en sy kry nie die dokter in die hande nie. Ek laat haar solank vir Simon ’n tas pak en jaag huis toe.

Wouter is by Dewald en sing ook die volgende oggend in die Witness-produksie by hulle kerk. Ons laai Abrie en Laetitia saam met ons in die kar en jaag vir die hospitaal. Daar gekom storm ons direk met Simon in die Onkologie-saal in. Hy word opgeneem, hulle trek bloed en gee hom pynmedisyne. Ons wag tot die kinderarts, dr Annelie Grobler, kom, en kyk hoe die Bulls die Hurricanes opfrommel. Simon se koors is af en die bloedmonster toon geen infeksie nie, en sy sê hy kan maar huis toe gaan. Toe Annelie egter vir Mariana Kruger bel en vertel hoe laag sy witbloedtelling is (400!), sê Mariana Simon moet in die hospitaal bly.

Simon word baie ontsteld toe ons sê ons gaan na oom André toe (waar die res van die familie braaivleis hou). Nee, sê hy, hy is nie siek nie en hy gaan nie in die hospitaal bly nie, want dan is dit die derde familiekuier wat hy misloop! Uiteindelik kom ons met suster Adèle ooreen om hom gou saam te vat na die braaivleis toe, en dan weer terug te bring. By oom André en tannie Chrisanda eet hy darem so ’n bietjie vleis, maar hy word net flouer en flouer. Abrie en Laetitia bly by die familie agter en gaan slaap uiteindelik by Marian en Pierre, terwyl ek en Susan vir Simon terugvat hospitaal toe.

Adèle koppel Simon aan die drup en gee hom weer medisyne. Sy koors wil egter nie daal nie. Adèle is alleen op nagdiens omdat hulle net drie kinders in die saal verwag het. Maar nou is Simon en Michael Tappen skielik ook by, en albei is deeglik siek. Die gevolg is ’n rowwe nag waar Susan die hele tyd moet help om Simon te hanteer. Nadat Adèle twee keer tevergeefs probeer het om sy temperatuur met ’n waaier en ’n nat handdoek af te bring, gooi hulle hom uiteindelik in die bad. Al wat hulle regkry, is om te verhoed dat die koors verder opgaan. Sy koors bly egter die hele tyd bokant 39 grade, en teen vroegoggend begin sy bloeddruk gevaarlik daal (op een stadium 62 oor 31!).

Sondag 29 Februarie 2004

Mariana Kruger doen vroeg Sondagoggend haar rondte en verduidelik dat die infeksie wat Simon onder lede gehad het, opgevlam het nadat Vrydag se chemoterapie sy witbloedseltelling skerp laat daal het. Nou is die infeksie ook weerstandig teen die gewone antibiotika, en moet ons oorslaan na ’n nuwe, sterker antibiotika. Sy toestand is ernstig, en sy besluit dat hy na Intensiewe Sorg oorgeplaas moet word. Sy waarsku ons ook om nie nou die hospitaal te verlaat nie, want ’n mens weet nie nou na watter kant toe die infeksie gaan draai nie.

Ons is deeglik ontsteld, en bel die oupas en oumas. Simon word in Intensiewe Sorg opgeneem en aan allerhande drade en monitors gekoppel. Hy is bitterlik pap en bleek, maar daar is ’n vriendelike suster wat net vir hom monitor, en sy stuur ons om iets te gaan eet en drink. Ek eet normaal, maar Susan kry slegs met groot dreigemente van my kant af ’n paar teelepels jogurt en muesli in haar lyf.

Oupa Ampie en ouma Laetitia daag op terwyl ons nog in die koffiewinkel sit. Hulle gesels ’n bietjie en gaan dan op na Intensiewe Sorg toe. My vrou sit soos ’n spook voor my tot my skoonma terugkom en gou rapporteer dat sy bloeddruk darem al gestyg het na 80 oor 44. Beteken dit dat daar darem hoop is? Sal dit nou aanhou verbeter?

Oupa Wouter en Ouma Ierene kom ook in die hospitaal aan terwyl ons nog by die koffiewinkel sit, en ons vertel maar wat die probleme en gevare is. ’n Kindervriend van Susan, Etienne Olivier, en sy vrou Lynette kom toevallig daar verby omdat sy met ’n fiets geval het. Etienne is self ’n mediese dokter, en hulle kry hier vir die eerste keer in jare kans om te sit en kuier. Dit dien as ’n goeie uitlaatklep vir Susan se spanning.

Ons gaan saam met my ouers op na Intensiewe Sorg toe. Die oupas en oumas sal skofte neem om by Simon te bly sodat ek en Susan vir Abrie en Laetitia kan huis toe vat. Toe ons Simon groet, kan hy skaars so ooglede lig, al is sy bloeddruk nie meer so kritiek laag nie. Maar ons moet nog wag om te sien of die nuwe binne-aarse antibiotika die gewenste effek sal hê.

Ons gaan haal vir Wouter by die Niemandts, en Nelus doen vir ons ’n gebed. By die huis val ons op die bed neer en slaap so ’n uur. Die kinders doen ’n bietjie huiswerk en ons tref reëlings dat Laetitia by Elisabeth Sonnekus sal gaan slaap, en Wouter en Abrie by Dewald Niemandt. Ons gaan kerk toe, en na die tyd kry Susan kans om lank met Mariette van Wyk en tannie Anna Viljoen te gesels. Anriëtte van Wyk het Maandag 12 jaar oud geword, en is pas klaar met die behandeling na haar breinkanker. Dit gee ’n mens perspektief as jy hoor dat ander mense dieselfde soort krisisse beleef en deurleef het, en dit maak jou nederig en dankbaar as jy besef watter ekstra trauma jy gespaar word. Anriëtte moes vir 8 weke lank daagliks bestraling kry nadat die gewas op haar brein verwyder is! Daarmee saam berei dit ons voor op ander probleme wat nog wag: waaroor praat ’n kind van 12 met haar skoolmaats as hulle ’n jaar lank in totaal verskillende wêrelde geleef het?

Ons pak na kerk gou vir ons ’n tassie en ry terug hospitaal toe. Dis ’n ander kind wat vir ons wag! Simon sit regop en praat met ons. Hy het selfs energie vir grappies – hy hou sy asem in om te kyk of hy die monitor se alarm kan laat afgaan! Wat ’n verligting! Sy temperatuur is normaal en sy bloeddruk is gestabiliseer. Die infeksie is onder beheer, en ons kan rustig gaan slaap – sommer in ’n leë saal onder by Onkologie. Vannag slaap ons baie beter.

Maandag 1 Maart 2004

Simon is selfs nog beter as gisteraand: hy is al geïrriteerd met die pypies en drade! Hy eet ontbyt, en bestel middagete. Maar Susan moet sy ouma bel om vir hom ’n sappige steak te bring! Die hospitaal se kaas- en hamtoebroodjies is lekker, maar hy is nie lus vir die ham nie. Pa en ma moet dit maar opeet. Sy ouma bring vir hom twee stukke steak. Hy eet een en ’n half dadelik op, en die ander stukkie later die middag.

Waar Simon Sondag uitermate pap was, is sy energievlakke Maandag aansienlik beter. Die medisyne en die bloed wat hy ontvang het, het duidelik ’n positiewe effek. Annelie Grobler is tevrede met sy vordering, en Mariana Kruger maak ook later die middag ’n draai. Sy wil hom ter wille van monitering graag in Intensiewe Sorg hou tot Dinsdagoggend, maar daarna kan hy weer na die gewone kinderonkologie-afdeling toe gaan. Later die week kan hy ontslaan word, en net daagliks inkom vir die binne-aarse antibiotika. Ons reël met Oupa en ouma Van Wyk dat hy dan vir die paar dae by hulle gaan bly, en dat hulle hom elke dag hospitaal toe sal vat.

Familie en vriende wat help, is ontsaglik belangrik in so ’n moeilike tyd. Verlede week kon Simon by sy oupa en ouma Barnard gaan bly; hierdie week by sy oupa en ouma Van Wyk. Dit spaar vir my en Susan baie tyd en heen en weer ryery, en dit gee ons ook baie gemoedsrus. Dit help ons net so baie dat vriende en gemeentelede ons met kos bederf. Met ons onreëlmatige program is dit baie moeilik om kosmaak te beplan, en so kry die drie gesonde kinders darem nog voedsame kos. Verder red vriende ons lewe elke keer as die kinders skielik op kort kennisgewing by ’n maat moet oorbly, of na en van die skool vervoer moet word. Baie dankie vir almal wat help en hulp aanbied.

Intussen bly dit maar ’n rowwe tyd. Susan eet nie, en ons oefen feitlik nie meer nie – wat gewoon beteken dat ’n mens se gestel agteruit gaan. Ons slaap maar redelik sleg – die een nag omdat ’n mens oor Simon se gesondheid bekommerd is, en die volgende weer omdat jy beleef dat jy agter raak met jou gewone verpligtinge. Gelukkig het sowel ek as Susan baie begrypende kollegas en vriende, en bly die mense geduldig met ons. Ons het nog steeds eindeloos baie om voor dankbaar te wees.

Dinsdag 2 Maart 2004

Susan ry deur hospitaal toe om by Simon te gaan kuier. Dit gaan uiteindelik goed genoeg met hom dat hy weer uit Intensiewe Sorg na die kinderonkologiesaal oorgeplaas kan word. Simon was baie verlig om weer by die bekende susters en saal te wees met maats en speelgoed

Woensdag 3 Maart 2004

Suster Adèle bel om te laat weet dat die dokter besluit het om Simon se Port-a-Cath te laat uithaal. Die sny in die nek waar die pypie ingesit is, het infeksie opgedoen wat nie wil opklaar nie en wat net kan versprei. Dit beteken dat Simon nie meer na sy oupa en ouma toe kan gaan nie, maar dat hy Donderdag douvoordag weer vir ’n operasie teater toe moet gaan. Hy is allermins beïndruk.

Ek gaan kuier laataand vir hom in die hospitaal, waar hy en Nicolas Jacobs ’n kamer deel. Nicolas kom van Piet Retief af, en is sedert Maandag weer in die hospitaal met ’n drup wat 24 uur van die dag medisyne voer. Hy weet nie wanneer sy ma-hulle weer kom nie, en is alleen en hartseer.

Na so ’n rukkie se kuier sê Simon vir my dat hy bang is vir die operasie. Ek vat hom Wiesenhof toe om ’n bietjie te bederf en alleen te kan gesels. Hy verstaan nie mooi hoekom hulle nou wil opereer en die Port-a-Cath wil uithaal nie, en ek verduidelik so goed ek kan volgens wat Mariana vir my gesê het. Dit help darem so ’n bietjie, al is die warm sjokolade nie so lekker soos hy gehoop het nie, en al is die kombuis toe sodat hy nie kan vleis bestel nie. Hy kla dat hy die Spur-advertensies op TV nie kan hanteer nie, want hulle wys die hele tyd vir hom die lekkerste vleis. Die ergste van alles is dat hy nie restaurant-vleis mag eet nie omdat ’n mens nie doodseker kan wees van die higiëne nie. Terug in die kamer lees ek vir hom en Nicolas ’n stukkie uit die Bybel, en bid vir hulle. Ek gee Simon ’n drukkie, en pak die tog huis toe aan.

Die eerste ding wat elkeen van die drie kinders by die huis my vra, is hoe dit met Simon gaan. Hulle is ook maar bekommerd. Susan lê katswink in die bed; ’n Woensdag is ’n rowwe dag vir haar en sy het aan Trinity se musical gewerk tot 19h30 toe. Ons bly maar bekommerd. “Hoekom kan ek nie net glo dat die Here Simon sal gesond maak nie?”, vra sy. “Omdat daar nog altyd risiko is. Ons weet dat die Here hom gesond kan maak, maar ons weet nie of die Here hom wel sal gesond maak nie. En omdat ons die naweek gesien het hoe vinnig alles soos ’n handomkeer kan verander.” Die suster het vroeër vandag teenoor my laat val dat Simon se infeksie een van die ernstigstes in maande of jare in die Onkologie-eenheid was. Nou verstaan ons dus hoekom Mariana nie Sondagoggend wou hê ons moet ry nadat Simon na Intensiewe Sorg oorgeplaas is nie. Toe het sy net gesê dat ons moet wag, want “dit kan nou enige kant toe gaan”.

Susan vertel ook hoe Abrie vir haar kom sê hy voel sy skeep hom af. Ons doen ons bes, maar dit ís so: ons skeep ons drie gesonde kinders af. Abrie wil nie soseer hê Susan moet iets vir hom doen nie, hy wil net hê sy moet saam met hom tyd spandeer. Sy het dus sommer saam met hom gaan sit en TV kyk. Die afskeep geld natuurlik ook vir my en Susan. Ons probeer hier en daar vinnig saam iewers heen ry, of staan-staan saam koffie drink. Maar dis nie soos ons dit graag wou hê nie, en dis eintlik nooit sonder onderliggende spanning nie. Vannag gaan slaap ook weer lol – ons is bekommerd oor die operasie.

Richard bel uit Noord-Ierland, en dit help want ons kan soos gewoonlik ’n bietjie met mekaar die draak steek. Hy en Valerie is vandag 15 jaar getroud (en hy het dit selfs onthou!). Hy wonder hardop of dit help om vir iemand te sê dat jy vir hom bid, want hulle en hulle familie en kerk bid almal vir Simon. Ek dink tog dit help, en Susan gaan dit ook voor die operasie vir Simon sê. Maar die belangrikste van alles is dat ons glo dat God ons gebede hoor. Daarom hou ons altyd aan bid.

Donderdag 4 Maart 2004

Susan ry vroeg-vroeg hospitaal toe om by Simon te wees voor die operasie. Simon het angstig op sy ma gewag, want hy laat hom nie deur vreemde vrouens bad nie. Daar is egter nie meer genoeg tyd om dit voor die operasie te doen nie, en Susan besluit om dit te  laat wag tot na die tyd. Maar Simon is eintlik sommer net moeilik. Hy ignoreer al die mense wat op pad teater toe by sy bed verbystap met hom praat “want hy ken hulle nie”. Verder hou hy aan sê dat hy nie verstaan hoekom hy al weer geopereer moet word nie, al het hoeveel mense nou al hoeveel keer vir hom baie mooi verduidelik. Eintlik is hy maar net bang. Hy het self baie groot geskrik oor die infeksie wat hom in Intensiewe Sorg laat draai het.

Na die operasie is hy egter vinnig by en baie vrolik. Die operasie het goed afgeloop, en hy voel goed. Dit blyk ook uit sy aptyt: hy is al weer lus vir steak. Susan kuier nog ’n rukkie, bad hom weer mooi skoon, en keer terug huis toe.

Vrydag 5 Maart 2004

Vandag is ouboet Wouter se verjaarsdag. Hy is bly oor die Josh Groban-bladmusiek wat hy vir sy verjaarsdag present kry, maar die dagprogram word maar steeds deur Simon bepaal. Wouter verjaar saam met sy oom Hans Barnard (wat tans vir die werk in Swede is) en sy nefie Pierré wat ook in Centurion bly. Ons spreek dus met tannie Marian af om vinnig teen 16h00 partytjie te hou in die hospitaal, en sy sal haar forte, sjokoladekoek, saambring vir die geleentheid. Die oupas en oumas en die neefs en niggies kom almal hospitaal toe. Ons wonder al wat dink die personeel van dié familie!

Wouter is haastig om met die partytjie te begin, want sy vriendin, Irma van Rensburg, gaan hom by die hospitaal kom oplaai, en dan gaan hy en ’n paar maats later die aand saam koffie drink my Mugg & Bean. Simon is ook haastig, want om 16h30 kom Mariana vir die volgende LP en ’n Laspar-inspuiting. Daarvoor moet hy gesedeer word, en dan is hy vir 2 ure lank buite aksie. En tannie Marian daag laat op – oomblikke voordat Simon gesedeer word. Hy is dus lekker suur, want nou mis hy die hele partytjie.

Toe die suster begin om hom te sedeer, is daar nog baie mense in die saal wat met hom  gesels. Sy moet hulle uitjaag om hom rustig te kry, en dit lyk nie of hy behoorlik gesedeer is nie. Simon moet op sy sy in die fetusposisie lê, en suster Hannelie moet sy bene en nek na mekaar toe klamp om die ruggraat die hele tyd te laat uitstaan. Mariana steek die naald diep in sy rug in, draai dit dan dié kant toe en dan daardie kant toe, en kla dat dit ’n droë tap is – sy kry nie vog getrek nie. Intussen kerm Simon hardop oor die pyn en probeer hy sy rug reguit maak. Pa moet dit aanhoor en probeer troos, en Hannelie moet hou vir al wat sy werd is. Uiteindelik stuur Mariana inderhaas ’n suster om nog ’n naald te gaan haal, en steek die volgende naald tussen die volgende twee werwels in. Simon huil luidkeels, maar dié slag kry sy darem vog getrek, en gee hom daarna ook die chemo-inspuiting deur dieselfde naald.

Nou moet Simon op sy rug lê sodat hulle hom die Laspar-inspuiting in die been kan gee. Hy is vir alle praktiese doeleindes helder wakker, en gil toe hulle die inspuiting in die been gee. Dit laat die hele uitgebreide familie in die saal instorm, en ek moet vir hulle beduie om dadelik uit te gaan. Terselfdertyd probeer ek ten spyte van die knop in my keel vir Simon troos: “Ek weet dis seer, maar dis die manier om seker te maak dat jy gesond word.” En ek probeer vir hom iets positiefs voorhou om na uit te sien: “As jy eers gesond is, koop ons vir jou ’n resiesfiets en dan ry ek volgende jaar die 28km-wedren saam met jou.” Dadelik vra hy: “Maar gaan Pa nie die 111km ry nie?” “Nee”, belowe ek, “ek sal saam met jou die 28km ry.” Dit trek dalk eerder sy aandag van die pyn af as wat dit werklik troos, maar dit kry hom darem stil. Die personeel verseker my dat hy saam met die sedasie medisyne gekry het wat hom alles sal laat vergeet. Maar raai wat? Na die tyd het hy heeltemal van die pyn van die LP en die Laspar-inspuiting vergeet, maar nie van die fiets nie! In for a penny ...

Ons los Simon uiteindelik in die hospitaal, gaan haal Laetitia by Marian se huis, en keer terug na Weltevredenpark.

Saterdag 6 Maart 2004

Dis weer ’n skaaknaweek. Laetitia speel in die De la Rey Uitnodigingstoernooi – vir die eerste keer sonder Simon. Sy hou nie daarvan om skaak te speel as Simon nie daar is nie, en ons probeer haar motiveer deur haar daarop te wys dat dit haar kanse verbeter om prysgeld te wen. Ek laai haar af en ry deur na ’n vergadering met die Johannesburg Metroraad se sportverteenwoordigers, maak later ’n draai by ’n ander toernooi, en keer eers laatmiddag terug na Laerskool Genl. de la Rey toe. Laetitia het uiteindelik derde geëindig en ’n paar Rand gewen wat haar sal help om in Oktober saam met die nasionale span Griekeland toe te gaan. Ons het vroeër gedink ons sal nou al begin het om planne te maak om geld bymekaar te kry vir die toer na die wêreldkampioenskappe toe, maar dit het alles baie gou op die agtergrond verdwyn toe Simon siek geword het. En al het Simon in elk geval nie die span gemaak nie, wil Laetitia nou sommer nie eers meer oorsee gaan nie!

Susan het vir Simon by die hospitaal gaan haal. Hy is effens papperig, maar kry sommer nuwe lewe toe hy uit die hospitaal is. Ons kyk rugby by Glenn en Annelette, en eet later saam pizza. Simon gaan slaap vir die eerste keer in ’n week weer in sy eie bed.

Sondag 7 Maart 2004

Teen 04h00 klop Simon aan ons deur. Hy was pas in die toilet, maar sy maag bly seer. Dit help egter baie as hy styf in sy ma se arms kan verder slaap.

Ons staan later op en eet ontbyt. Simon hou egter nie sy ontbyt, of die Prednisoon-pille, in nie. Dis die eerste keer dat hy opgooi van die behandeling, maar na die tyd voel hy darem ’n bietjie beter.

Dis die eerste keer in ’n maand dat Simon in die kerk kom, en hy het self baie daarna uitgesien. Ons moet egter vroeg uit die kerk uitsluip omdat Abrie en Laetitia die geleentheid gekry het om by Florida Hoërskool teen die besoekende Romeense Grootmeester in skaak, George Grigore, te kan speel. By die skool is Simon egter nie eers lus om uit die kar te klim en te kyk wat in die saal aangaan nie. Hy voel sleg, en Susan en Wouter jr sleep my naderhand uit ’n gesprek weg om Simon by die huis te kry.

By die huis gaan dit nie goed met Simon nie. Hy is naar, hy het maagpyn en hy lê ontroosbaar op die sitkamerbank en huil. Wouter lê met sy lang slingellyf bo-oor Simon gedrapeer en probeer tevergeefs om hom tot bedaring te bring, en Susan gee hom maar pille vir die naarheid. Hy voel te sleg om te slaap, en hy het nie regtig genoeg energie dat ’n mens sy aandag kan aftrek nie.

Ek keer later terug na die skaak toe, en vat toe vir Abrie na die Roodepoort stadsteater toe vir ’n uitvoering van Florida se Con Spirito-koor. Ons sou Susan en Simon daar ontmoet het, maar Simon voel toe so sleg dat Susan met hom by die huis gebly het. Ek en Laetitia luister toe maar alleen na ’n mooi kooruitvoering waarin Wouter twee solo’s sing, onder andere Jacques Brel se Marieke.

Vir Simon was Sondag eenvoudig nie ’n goeie dag nie. Hy het drie keer opgegooi en het ook diaree. Toe ek met die ander drie kinders by die huis kom, is tannie Anna Viljoen saam met Mariëtte en die twee dogters (Anriëtte en Juarien) daar. Susan het in haar benoudheid gebel en raad gevra, en hulle het besluit om op pad na die aanderediens toe eers te kom kuier. Dit troos darem om uit die perd se bek uit te hoor dat Anriëtte maar net so swaar gekry het; trouens, sy moes dikwels vier dae lank op ’n chemo-drup lê en was daarna vir agt dae aaneen so siek as Simon nou. Chemo is nie grappies nie.

Maandag 8 Maart 2004

Simon het wel in die nag wakker geword en toilet toe gegaan, maar dit gaan reeds baie beter. Hy bly maar pap, en lê die hele tyd in die bed terwyl ons gereed maak om skool toe te gaan. Geleidelik begin hy darem ontwaak, en toe ons so 12h30 hospitaal toe ry, vat hy ’n bal saam! In die hospitaal stap hy ewe vrolik rond en bons die bal deurentyd op die grond. Ons kry medisyne by die apteek en laat trek bloed. Toe die uitslae kom, is dit so goed dat ons selfs kan ophou met die peperduur Granocyte-inspuitings wat sy witbloedseltelling moet verhoog. Sy witbloedtelling is 30(000), sy plaatjietelling is oor die 300, en daar is nie meer infeksie nie. Nou kan Simon vir ’n week lank huis toe gaan voordat die tweede groot fase van sy behandeling begin. Die eerste moeilike maand is agter die rug!

Dinsdag 9 Maart tot Sondag 14 Maart 2004

Dis eintlik wonderlik om van ’n dagboek ’n weekboek te maak. Dit beteken dat daar vir ’n lang tyd min moeilikheid was en dat almal ’n bietjie kon ontspan. Van die begin van die week af het dit elke dag beter gegaan. Simon het nogtans by die huis gebly en steeds nie skool toe gegaan nie. Simon lê en slaap baie, en sy energievlakke is ver van normaal af. Hy speel nie eers meer so graag Playstation nie! Gelukkig het die Buckles langsaan vir Simon genooi om elke middag so vir ’n uur te kom pool speel – dis die hoogtepunt van sy dag!

Woensdagaand moes Simon alleen - saam met die ander drie kinders – by die huis bly omdat ek en Susan ander verpligtinge gehad het. Toe oupa Ampie bel en met hom wil praat, vra Simon vir Laetitia om namens hom te sê dat hy te sleg voel om telefoon toe te kom. Ouma Laetitia SMS toe dadelik vir Susan om huis toe te bel. Susan bel huis toe, en Laetitia sê toe dat Simon siek is. Die gevolg is dat Susan inderhaas klaarmaak met Trinity se musiekoefening, en huis toe jaag. Maar by die huis aangekom, makeer Simon niks. Hy erken self dat hy “in ’n frenzy gaan as Pa en Ma nie by die huis is nie.”

Ons begin geleidelik agterkom dat Simon se gemoed ook maar deur sy siekte aangetas is. Noudat hy begin gesond word en daar eintlik nie meer fisies met hom fout is nie, is hy nog steeds bang en hipersensitief. Hy is die hele tyd op sy senuwees en rapporteer elke skeet en spiertrekking onmiddellik. Susan vat hom Donderdagoggend vir ’n bederfie Mugg & Bean toe, maar hy bly ongemaklik. Hy wil nie tussen die mense sit nie, want hy is bang hy tel kieme op, en storm so gou moontlik terug kar toe. Toe hulle Laetitia na skool gaan oplaai, gaan maak hulle ’n draai by die rugby waar ’n klomp onderwysers en maats Simon vir die eerste keer sedert sy diagnose weer sien. Dis vir hom baie lekker om almal te sien, maar hy is maar baie selfbewus.

Vrydag staan Simon op met slym in die keel en ’n hoes. Hy voel nie siek nie, dis net ’n irritasie – en iets wat ’n mens baie fyn moet dophou sodat dit nie in een of ander siekte ontwikkel nie. Ons bel Mariana Kruger en sy stuur Susan om sy bloed sommer by Flora Hospitaal te laat toets. Daarna moet sy Simon na die huisdokter toe vat om seker te maak dat daar niks ernstigs fout is nie. Dr. Eugene van der Walt stel haar egter gerus, en laat haar maar net hoesstroop koop. Voorlopig behandel ons dus maar net simptome.

Saterdagoggend besluit ons om vir die eerste keer sedert Simon se siekte iets as gesin te gaan saamdoen. Niemand in die gesin het enige verpligtinge nie (kan jy glo?), en ons gaan fliek by Cresta. Nie dat ons dit saam kon doen nie – ons gaan sien uiteindelik drie verskillende flieks! Na die tyd koop ons doughnuts en wegneem-pizza, wat Simon weer eens eerder in die kar as in die sentrum tussen al die baie mense wil eet.

Saterdagmiddag is ’n heugelike geleentheid: ons kyk saam met die Cuthbertsons hoe die Bulle die Brumbies op Loftus in die reën klop, en die Stormers slaag sowaar daarin om nie teen hulleself te verloor nie. Die kuier doen Simon goed en hy besluit om sommer by Clinton oor te slaap en Sondagoggend saam met die Cuthbertsons kerk toe te gaan.

Net na 07h00 lui ons telefoon. Dis Annelette Cuthbertson wat bekommerd is omdat Simon warm is. Sy het egter nie ’n koorspen nie en kan dus nie vir ons ’n akkurate aanduiding gee van sy temperatuur nie. Dus spring ons in die kar en gaan haal hom onmiddelik. Gelukkig is dit weer ’n vals alarm; daar is nie koors nie. Maar dit is maar hoe ons lewe nou is: waar ons vroeër g’n kind se hoofpyn op die eerste dag ernstig opgeneem het nie, spring ons nou by die geringste aanduiding omdat ons eerder wil veilig speel.

Maandag 15 Maart tot Sondag 21 Maart 2004

Dis die begin van die tweede deel van Simon se behandeling. Ek vat Simon hospitaal toe waar hulle weer beenmurg trek en sy bloed laat toets. Ons moet maar geduldig vir die uitslae wag voordat die personeel die drup kan koppel. Vanaand moet Simon in die hospitaal oorslaap omdat die nuwe chemo oor 24 uur deur die drup moet loop. Daarna kry hy vier dae agtereenvolgens weer ’n ander soort chemo wat sommer met ’n spuit deur die drup toegedien word. Hierdie patroon (’n chemo-inspuiting vier keer per week) word elke week oor die volgende vier weke herhaal.

Mariana Kruger kom sommer vroeg die middag verby en is heeltemal tevrede met Simon se uitslae – sowel die bloed as die beenmurg wys dat sy liggaam steeds skoon is van die kanker. Met hierdie goeie nuus laat ek Simon by die hospitaal agter (sy oupas en oumas kom kuier darem gereeld), en keer ek terug huis toe om betyds te wees vir my aandverpligtinge.

Ons het met oupa en ouma Van Wyk gereël om Simon die week by hulle te laat bly, en hom dan net elke dag hospitaal toe te vat vir sy inspuiting. Dinsdagaand – ’n uur voordat hy saam met sy oupa en ouma moet huis toe gaan – steek Mariana Kruger egter ’n stokkie daarvoor. Simon het weer ’n ligte koors ontwikkel en moet antibiotika kry, en ter wille van veiligheid moet hy in die hospitaal bly sodat sy toestand gemoniteer kan word. Simon is goed grimmig!

By ons huis gaan dinge egter maar dol, want dit is die week van Trinity se opvoerings (waarvoor Susan die musiekregie doen). Ek jaag na my aandklas na Trinity toe om die eerste uitvoering van die skool se musical te sien. Ek dink dit was heeltemal goed, maar Susan-hulle is na die tyd glad nie tevrede nie, en sy is so moeg dat sy nie eers behoorlik aandag gee aan die oud-leerlinge wat haar met soveel entoesiasme kom groet nie. Die werksdruk en deurlopende spanning eis maar sy tol.

Na die konsert gaan maak ek ’n draai by Olivedale hospitaal omdat ek gehoor het dat klein Chané Pretorius (sy is maar 9 jaar oud) bo en behalwe haar ernstige siektetoestand (diabetes en lewersklerose) Sondagaand nog ’n trombose-aanval gehad het. Ek kry haar ma, Marina, saam met haar in die hospitaalkamer, en ons gesels lank nadat ek vir Chané gebid het. Hoewel ons kinders heeltemal verskillende siektes het, beleef ons as ouers baie dieselfde soort spanning. Maar al lyk Chané verbasend goed (net pap) en kan sy selfs vir my kyk en na my luister, is haar paadjie beslis baie langer en moeiliker as Simon s’n. Hier is mense wat ons voorbidding nodig het!

Woensdag bel Susan vir Simon en dring daarop aan dat hy vir Mariana Kruger moet vertel van sy bewende handjies. Dit gaan nou al meer as ’n week so aan, en in die kerk het ek Sondag naderhand sy hand in my hand vasgedruk om die bewende vingers stil te hou. Mariana bel Susan Woensdagaand terug en verduidelik dat sy (soos gewoonlik) onmiddelik besluit het om toetse te doen om vas te stel wat die oorsaak daarvan kan wees. Hy moet daarvoor na die kinder-kardioloog gaan vir ’n hartsonar, en ook na die radioloë vir ’n MR-skandering. Dis sekerlik die regte ding om te doen, maar net die gedagte ontstel Susan so dat sy my summier by die kerkraadsvergadering bel. Ons dink dadelik aan die swart seuntjie, Andries, wat van tyd tot tyd saam met Simon in die saal lê, en wat hartversaking opgedoen het van die chemoterapie. ’n Mens soek nie sulke ernstige komplikasies nie.

Donderdagoggend het ek gelukkig nie klas nie, en ons gaan dus deur hospitaal toe. Simon kla oor die hare wat al meer begin uitval. Dis die hele kussing vol, dit is oral op sy klere, en dit val in sy kos. Susan vat dus die knipper saam en gaan knip (ten spyte van my protes) sy hare af. Sy wou dit heeltemal afskeer, en bedink haar toe gelukkig halfpad. Die uiteinde is dat sy hare nou so nr. 2-lengte is, maar dat dit onder by sy agterkop heeltemal afgeskeer is – en skeef ook! Nou nie heeltemal sy pa se wens nie, maar darem heelwat gemakliker vir hom.

Dis egter nie ’n lekker oggend nie. Die susters sukkel om die drup in sy aarlose hande te kry, en slaag eers met die vyfde probeerslag daarin. Simon kla egter die hele tyd dat dit seer is, en toe ons teen 12h30 in die kinderkardioloog se spreekkamer aankom, skree hy van pyn en frustrasie. Die ontvangsdame bel Onkologie om ’n suster te stuur wat die drup kan uithaal terwyl ’n dierbare dr. Colyn uit die spreekkamer kom en sommer op die vloer gaan sit om hom te troos. Simon is net bang dat die sonar hom ook gaan seermaak, maar raak uiteindelik op die bed in ’n fantastiese kinder-spreekkamer aan die slaap terwyl die dokter nog met my en Susan praat.

Daarna die MR-toets. Dit blyk uiteindelik eerder vir my ’n toets: die dierbare mediese spaarrekening is uitgeput (dit het half oornag gebeur en ek moet dit nou nog gaan kontrolleer, want ek hou die rekenings met ’n valkoog dop). Die gevolg is egter dat ek maar sommer kontant kan betaal (dan kry ek darem afslag). Dit is egter belangrik om die toets te doen sodat ons kan vasstel of daar fout is op die brein, dus gaan ons daarmee deur. Agterna is ons bly daaroor: beide die hartsonar en die MR-skandering toon dat daar niks met Simon fout is nie. Om veilig te speel reël Mariana Kruger dat ’n pediatriese neuroloog Simon Vrydagmiddag sal kom ondersoek om seker te maak dat daar ook nie met sy senuweestelsel fout is nie. Dit lyk egter al meer asof Simon net onder geweldige spanning verkeer. Ons kom uiteindelik heel laat eers by die hospitaal weg, en Susan is ternouernood betyds vir die laaste opvoering by Trinity. Dié was darem selfs vir haar goed genoeg, en bring saam met die uitslae van Simon se toetse groot verligting.

Vrydagmiddag ry ons om vir Simon by die hospitaal gaan haal. Ek gebruik sommer ook die geleentheid om met Mariana Kruger te gesels voordat sy in die saal ingaan. Ons begin besorg raak oor Simon se onnatuurlike sosiale gedrag. Hy is baie bang vir ander mense se kieme, en voel duidelik ook selfbewus oor sy voorkoms. Hoewel hy van die kortisoon-behandeling af is en sy eetlus en gewig weer vinnig normaliseer, het hy nog ’n bietjie van ’n poffergesig en is die hare maar yl en kort. Hy ontwyk mense, trek sy hoed oor sy oё en hou sy hand voor sy gesig wanneer hy met iemand moet praat. Saam met die bewende hande lyk dit vir ons asof die siekte en behandeling nou ’n sielkundige effek begin kry.

Mariana is baie begrypend. Die neuroloog het ook bevestig dat daar niks ernstigs met Simon skort nie, en het net spesifieke vitamien-aanvullings voorgeskryf. Verder stel Mariana voor dat ons iemand kry om met Simon musiekterapie te doen, en laat die personeel bloed trek om te bevestig dat al sy tellings reg is. Dan kan Simon maar weer fiets ry, krieket speel en Dinsdag teruggaan skool toe. Ons probeer sy chemo-behandelings ook so skeduleer dat hy oor twee weke die SA Geslote Skaakkampioenskappe met so min newe-effekte moontlik sal kan speel. Ons moet sy lewe so veel moontlik na normaal laat terugkeer sodat sy gewone waagmoedige persoonlikheid weer na vore kan begin kom.

Saterdagoggend realiseer Reach for a dream se beloofde vliegtuigrit toe uiteindelik. Dit word moontlik gemaak deur Tuks Jool, en ons moet om 09h00 by Wonderboom-lughawe wees. Ons het gereël dat Laetitia saam met Simon vlieg, en dis ook maar goed so, want by die lughawe is daar toe geen ander kankerpasiënte nie – net VIGS-pasiëntjies en kinders van minderbevoorregte skole. Met al die goeie bedoelings wat daarmee gepaard gaan, is die geleentheid egter soos ’n tipiese studentefunksie gereël – deeglik deurmerkaar. Die tweeling is dus hoogs geïrriteerd en wil glad nie meer gaan vlieg nie, en Laetitia verdwyn sommer uit pure moedswilligheid. Dit veroorsaak uiteindelik dat al die grootmense en kinders na haar begin soek, en dan kom sy natuurlik net skielik ewe luiters deur die hek gewals. Ek was die verwelkomingskomitee, en die verwelkoming was maar ’n bietjie warm!

Die vliegtuig was ’n stokou Douglas DC3, en ek en Susan het die antieke gedrog met groot vrees en voorbehoud beskou. Selfs nadat die kinders in die vliegtuig was en sy tweede skroef met ’n effense gesukkel aan die gang gekom het, het ons nog ernstig oorweeg om die kinders van die vliegtuig af te haal en huis toe te gaan. Laetitia is immers gesond, en ons glo dat Simon ook gaan gesond word. Ons wil hulle nie nou sommer so verloor nie! Met groot selfbeheersing het ons hulle toe tog laat vlieg. Dit was die regte besluit, want toe hulle afklim, is hulle ander kinders – vriendelik en uitbundig. Die joolkomitee het al die kinders deeglik bederf, en behalwe vir die eetgoed ontvang elke kind toe ook nog ’n T-hemp, ’n hoedjie en ’n liniaal. Daar is regtig baie instansies wat sulke ongelukkige kinders bederf, en ons oё sien dit nou eintlik vir die eerste keer raak.

Die res van die langnaweek bring ons rustig as gesin by die huis deur. Sielsalig, of soos Psalm 128 sê:

                                 “Jou vrou is in jou huis soos ’n vrugbare wingerdstok,

                                 jou seuns is rondom jou tafel soos jong olyfboompies!

                                 Kyk, so word die man geseën wat die Here dien.”

Maandag 22 Maart 2004

Vandag gaan Simon vir die heel eerste keer skool toe vandat hy met leukemie gediagnoseer is. Hy trek sy skoolklere aan, maar met ’n pet om sy yl hare ’n bietjie weg te steek. Ons is baie opgewonde, maar Simon is duidelik gespanne daaroor. Hy is bang dat kinders hom die hele dag toeswerm, hy is bang dat iemand ’n opmerking sal maak oor sy voorkoms, hy is bang dat hy met die skoolwerk gaan sukkel, en hy is bang dat hy gaan moeg word en sleg voel. Daarom vra hy of ons hom vroeg sal kom haal. “Nee, jy gaan die hele dag skool toe; ons kan jou nie deur die loop van die dag gaan haal nie. As jy ’n bietjie siekerig voel, kan jy in die siekekamer gaan lê.” Terwyl ek die kinders skool toe vat, bel Susan egter die skool. Sy vra dat hulle maar ’n ogie oor Simon sal hou, en dat hulle op subtiele maniere die kinders sal waarsku om hom nie allerhande onnodige vrae te vra nie.

Dit was egter ’n wonderlike dag! Toe ek hom by die skool gaan haal, rapporteer hy dat die maats hom nie eers vreeslik uitgevra het nie; hy kon aangaan asof niks nog ooit gebeur het nie. Hy het ook nie in die klas gesukkel nie, en hy het nie eers moeg geword nie. Hy het net nie pouses met sy maats gaan speel nie, “maar ons is nie meer so klein nie, en ons staan in elk geval eerder en gesels”.

Na middagete moet ek Simon hospitaal toe vat vir sy chemo-inspuiting. Hy kry vir die volgende vier dae elke dag net ’n vinnige inspuiting, en kan dan dadelik huis toe gaan. Mariana Kruger maak seker dat dit met hom goed gaan, en gee dan die groen lig dat die susters die chemo kan toedien. Ons keer terug huis toe, en Simon blom.

By die huis help Laetitia vir Simon (dis baie belangrik, nè), en sy huiswerk is sommer gou-gou afgehandel. Daarna speel hulle vingerbord (Susan het die oggend ’n bord en stukke gekoop), en Simon is sommer gou die nie-amptelike kampioen in die huis. Maar hy het nog nie teen my gespeel nie! Hy kyk hoe ek teen sy ma wen, en besluit om my eerder nie uit te daag nie. Maar daar is net een manier om sy babbelbek stil te kry, en dit is om hom in die bed te gaan stop.

Die teruggaan skool toe het sy doel bereik – Simon se gemoedstoestand het oornag verander!

Dinsdag 23 Maart 2004

Simon is weer skool toe, maar dié slag is hy nie eers gespanne nie. Die verpleegsters het die drup se naald in Simon se hand gelos, en die kort pypie met pleisters vasgeplak en saam met ’n spons in die hand vasgedraai. Hy moet dus net versigtig wees dat niemand aan die hand stamp nie, want dit is elke keer ’n gesukkel om ’n bruikbare aar te kry.

Na skool babbel hy en Laetitia ons tot by die huis, en sy gaan saam hospitaal toe vir die chemo. In die hospitaal sit hulle saam en huiswerk doen totdat die dokter kom. Mariana Kruger is baie tevrede met sy toestand, en ook met die uitslae van Maandag se bloedtoetse. Dit lyk ook nie asof die vorige dag se chemoterapie sy toestand nadelig geaffekteer het nie.

Ek ry huis toe met die tweeling wat weer die hele ent pad op die agtersitplek babbel. By die huis moet ons die vrolikheid teen 21h30 wreed onderbreek en vir Simon dwing om bed toe te gaan. Ons self gaan slaap met ’n baie ligter gemoed.

Woensdag 24 Maart 2004

Woensdag word die roetine herhaal. Die skool duur vandag egter langer, want Simon moet na skool ook die kooroefening bywoon. Toe ek hom so net na 15h00 oplaai, is hy maar ’n bietjie pê. Ons eet vinnig by die huis, en jaag hospitaal toe. Mariana is al daar, maar is darem nog met haar ander pasiënte besig. Sy ondersoek vir Simon, en gee die groen lig vir die chemo. Dis sommer vinnig afgehandel, en ons keer terug huis toe.

Met die terugry huis toe gaan lê Simon op die agtersitplek en slaap. Toe ek by die huis stop, kom verwelkom Susan haar seuntjie dadelik. Hy is egter nie so vrolik en energiek as die afgelope paar dae nie, en Susan is dadelik bekommerd omdat hy vir haar effens warm is. Sy vat hom kamer toe en begin hom afkoel om te kyk of dit maar net die slaap is wat sy temperatuur effens opgestoot het.

Nicolene Brink en Jan Kies het net na my by die huis aangekom vir huweliksvoorbereiding. Nicolene se ouma is tans in Flora Kliniek met longkanker, en ons verstaan mekaar se omstandighede baie goed. Die gesprek word egter gou kortgeknip omdat Susan uit die kamer kom met paniek in haar oё: “Sy koors hou aan styg! Ek vat hom nou terug hospitaal toe!” Sy pak vir haarself en vir Simon elkeen ’n tassie, en klim in die kar.

By die hospitaal word daar bloed getrek en weggestuur vir ontleding. Simon word dadelik aan ’n drup gekoppel en deurentyd gemonitor. Sy koors is hoog, en word net deur die pynmedisyne afgebring. Sodra dit uitgewerk is, styg dit weer. Elke kort-kort moet hy afgespons word, of in ’n koel bad gegooi word. Daar is ’n waaier in sy kamer en hy mag nie die laken oor hom trek nie. Simon vind dit wreed – kan hulle nie verstaan dat hy koud kry nie?

Donderdag 25 Maart 2004

Toe die uitslae van die bloedtoetse kom, wys dit niks. Al die tellings is normaal, selfs die CRP-telling wat aandui as daar ’n infeksie is. Maar ons het nou al geleer dat dit dae kan vat voordat die CRP-telling die infeksie uitwys, en teen daardie tyd kan hy al in Intensiewe Sorg lê. Hulle het Woensdagaand ook ’n kweking van sy bloed laat doen, maar dit sal op die vroegste eers teen Vrydagaand klaar wees.

Dis ’n moeilike dag vir Simon.  Sy koors bly vir lang tye hoog.  Tussen 11h30 en 12h30 die middag skiet dit op van 37.5 na 39.6.  Hy is behoorlik woedend toe Ma hom in ’n louwarm (vir hom yskoue!) bad sit.  Hy skree so op haar dat die suster inkom en sê sy gaan sy ma uitvat as hy weer so skree.  Dit is maar al die opstand en frustrasie wat so uitkom.  Hy voel net te sleg om nog op sy tande te probeer byt en dapper wees.

Teen 15h30 ry Susan weg van die hospitaal af om gou vir ’n paar leerlinge te gaan lesgee.  Teen 18h45 bel sy net die hospitaal om te hoor hoe dit gaan.  Dit sal bepaal hoeveel goedjies sy nog by die huis gaan regkry voor sy terugry.  Die suster sê Simon se koors was pas 40.1 en hulle het nou net die professor gebel.  Ma is hoogs ontsteld en jaag dadelik hospitaal toe.  Simon is intussen al op vier verskillende soorte antibiotikas om seker te maak dat hulle die onbekende infeksie êrens tref.  Die nag slaap Susan weer by die hospitaal en tussen 02h00 en 03h00 spook sy en Suster Hannelie weer met Simon se stygende koors.  Ons raak nou al moedeloos omdat die koors net nie wil breek nie.

Aangesien Laetitia van Donderdagaand tot Sondag in die SA Dames Ope Skaaktoernooi speel, moet Pa haar Pretoria toe bring. Ek ry eers vinnig by die hospitaal om, en Simon lyk heeltemal goed. Ek vertrek dus met ’n veel rustiger gemoed, en laat Laetitia by die skaak. My pa is uiteindelik gaaf genoeg (ten spyte van my ma wat ’n bietjie olik is) om haar teen 23h00 te gaan haal, en weer Vrydagoggend by die skaak te gaan aflaai. Ek kan dus terugkeer huis toe om by die seuns te wees. Wouter skryf Vrydag sy laaste eksamenvraestel, en ek het klasverpligtinge.

Vrydag 26 Maart 2004

Toe Susan Vrydagoggend opstaan lê Simon al en krieket kyk. (Dis die laaste toets tussen SA en Nieu-Seeland).  Maar sommer gou-gou begin hy weer koud kry.  Ma het nou al geleer: dis die teken dat sy koors weer begin styg.  Op hierdie stadium kry hy elke 4 ure alternatiewelik ’n Panado-tablet of Ponstanstroop.  Dit lyk asof die pro-aktiewe optrede sy koorspieke effens afhou, maar die koors wil maar net nie heeltemal wyk nie.  Simon is maar af, en die tydjies wat hy beter voel, is hy nog maar nie homself nie.  Tog lyk dit of die tyd tussen koors effens begin rek. 

Pa gee die hele Vrydagoggend klas, en gaan daarna huis toe om ook ’n naweektas te pak. Ek het gereël om self vir die duur van die naweek by my ouers in Brooklyn oor te bly, en pendel maar die hele tyd tussen die skaaktoernooi en die hospitaal. Toe Simon se koors teen 22h00 nog onder beheer is, besluit Susan om tog saam met my en Laetitia by Oupa en Ouma van Wyk te gaan slaap. Sy is al weer amper so bleek soos Simon self en eet feitlik nie – moeg en maer en uitermate gespanne. Die twee groot seuns het egter gekies om die naweek alleen by die huis agter te bly (tot Glenn en Annelette hulle Saterdag oor die twee ontferm het. Bygesê, Glenn het hulle sowaar die wedstryd tussen die Bulls en die Stormers laat deurkyk. Oom Wally da Silva sou gesê het “daar is nie so ’n wedstryd nie”).

Saterdag 27 Maart 2004

Vanoggend gaan koop ons gou vir Laetitia klere voor sy gaan skaak speel.  Sy het net vir een nag klere ingepak en Pa het vergeet om ekstra klere vir haar ook te bring.  Dan skiet ons in verskillende rigtings: Ma hospitaal toe, die ander skaak toe.

Toe Susan by die hospitaal aankom, was Mariana Kruger pas by Simon.  Uiteindelik lyk dit asof die koors ’n draai begin maak het – dit het die hele nag net een keer hoër as 38 grade gestyg.  Mariana Kruger dink die koors word veroorsaak deur dieselfde stafilococcus-virus wat Simon al twee maal tevore net so siek gemaak het. Ons het al Donderdag sulke rooi merkies op sy kopvel gesien.  Ma het gedink dis muskietbyte, Ouma Laetitia het gedink dis littekens en Suster Dianne dat hy hom seergemaak het.  Die professor herken dit egter nou as tipiese sere wat deur die stafilococcus-virus veroorsaak word.  Die oorspronklike bakterie skuil waarskynlik nog onder Simon se vel en elke keer as sy witbloedtelling as gevolg van chemo val, vlam die infeksie weer op.  Sy voeg nog ’n antibiotika by: Fucidin.  Op hierdie stadium is Simon se are al so verweer en die drup word op ’n daaglikse basis van aar verskuif.  Hierdie antibiotika het die verdere effek dat dit sy gewrig seermaak as dit daarby verby vloei.  Hy lê die hele dag met ’n yspakkie op sy hand om die pyn te verlig.

Die chemo en siekte saam laat Simon maar baie sleg voel.  Hy het nie ’n eetlus nie, en Susan (van alle mense) spreek hom daaroor aan. Sy antwoord verskaf sy pa egter ook van  die ideale wapen: “Ma, ek het ’n verstand. Ek weet ek moet eet.” Wel, daar het jy dit nou. En nou kan ek elke keer vir Susan ook sê: “Vrou, jy het ’n verstand. Jy weet jy moet eet – al is jy nie lus nie.”

Sondag 28 Maart 2004

’n Telefoonoproep hospitaal toe bevestig dat Simon se koors vir die eerste keer onder beheer is. Ons ry dus saam met Laetitia na Wapadrand se kerk toe, om daarvandaan sommer vinnig by die skaak te kom. By die kerk gekom, het die diens egter reeds om 08h30 begin, en ons ry dadelik skaak toe. Dit gee vir Laetitia kans om haarself geestelik voor te berei op die laaste rondte, en gee haar ouers kans om vir die eerste keer in ’n week met mekaar te sit en gesels.

Mense sê dikwels dat iets soos die ernstige siekte van ’n kind baie druk op ’n huwelik plaas. By die hospitaal het die personeel ons al vertel van baie huwelike wat in die proses van ’n kind se behandeling uitmekaar gespat het. Hoekom? Wat behels die “druk” in spesifieke terme?

Ek dink dit begin by tyd en tydsbesteding. Met ’n kind wat deurlopend siek is, moet ’n mens heelwat meer as jou beskikbare vrye tyd aan die versorging van die siek kind spandeer. Dit beteken in die eerste plek eenvoudig dat die ander kinders en die huweliksmaat minder aandag en ondersteuning kry. Wouter en Abrie is in hierdie opsig tot op datum merkwaardig geduldig, hoewel Abrie regtig moedeloos word omdat sy ma hom nie soos gewoonlik met al die versimpelde UGO-take kan help nie. Vir my en Susan is dit nie altyd ewe maklik nie, omdat elkeen van ons nou daagliks besluite moet neem wat die hele gesin raak sonder dat ons behoorlik met mekaar kan praat.

Die tweede probleem is dat ’n mens se prioriteite verskil. Susan wil deurentyd by Simon wees wanneer hy siek is, want sy ken hom beter as enigiemand anders en kan afwykings van die normale vinniger raaksien as die verpleegsters en die dokter. Ek voel egter dat sy nie voltyds dokter en verpleegster kan speel nie, en dat daar ook ander gesinslede is wie se belange in ag geneem word. Susan wil onmiddelik reageer as iets vreemd lyk; ek wil wag en sien of dit ontwikkel. So kan ’n mens aangaan. Prioriteite en keuses verskil.

Die derde probleem is dat ’n mens nie kan wegbreek van die spanning af nie. Jy kan nie gaan naweek hou, of met vakansie gaan, of sommer in die tuin werk om van ander spanning te vergeet nie. Ons kan nie eers gaan fiets ry nie, want sê nou ons is ’n uur van die huis af as die telefoon lui. Jy dra die spanning saam met jou, elke oomblik van die dag, en daar is nie ’n uitlaatklep nie.

Dís die druk wat ’n siek kind op ’n huwelik en ’n gesin plaas. Maar ek moet sê dat die geleentheid om met mekaar daaroor te praat, reeds baie help. Na Laetitia klaar skaak gespeel het, gaan eet ons dus saam met my ouers. Laetitia besluit om by haar oupa en ouma oor te bly, en oupa en ouma Barnard ry Roodepoort toe om vir Wouter en Abrie te gaan haal. Ek en Susan keer dus – na ’n besoek aan Simon in die hospitaal – alleen terug huis toe. Dit word twee terapeutiese dae vir ons, terwyl Simon in die hospitaal ook goed aansterk.

Dinsdag 30 Maart tot Maandag 5 April 2004

Vanaand begin die SA Junior Geslote Skaakkampioenskappe in Pretoria. Verlede jaar moes Simon droëbek teen die muur staan en toekyk hoe Laetitia en ’n hele paar van sy maats speel, maar na sy sesde plek in Desember se SA Ope het hy hierdie jaar ook ’n uitnodiging gekry. Die afgelope week was dit die hele tyd ’n vraag of hy sal kan speel, en of ons hom moet onttrek sodat die organiseerders betyds ’n plaasvervanger kan nooi. Teen Sondagaand het Mariana Kruger egter die groen lig gegee: as sy bloedtellings Maandag reg is, kan hy speel.

Maandag se bloedtoetse is dus bepalend vir die week, en wys gelukkig dat sy witbloedtelling selfs effens beter as normaal is. Die CRP-telling (wat infeksie aandui) is egter nog baie hoog. Simon het ook ’n bietjie slym in die keel waarvoor hy fisioterapie ontvang. Mariana Kruger wil die chemoterapie daarom ’n bietjie terughou sodat ons nou vir eens en vir altyd van die stafilococcus kan ontslae raak. Dit help ook vir die skaak, want nou hoef hy nie deur die loop van die toernooi chemoterapie te ontvang wat sy konsentrasievermoë affekteer nie.

Intussen is dit weer ek en die mediese fonds (soos Gert en Mariette van Wyk ons van die begin af gewaarsku het). Hoewel Simon onder die skema se Onkologieprogram geregistreer is, het ek agtergekom dat ’n klomp rekenings nie teen die Onkologieprogram gedebiteer is nie, maar teen die Mediese Spaarrekening. Dit skep vir my ’n probleem, omdat ek aan die einde van 2003 na deeglike oorweging van die allesinsluitende komprehensiewe plan afgeskaal het na die basiese kernplan. Die gevolg is dat my Mediese Spaarrekening reeds uitgeput is, dat daar nie ’n drempel is waar die mediese fonds weer verantwoordelikheid oorneem nie, en dat ek skielik aanspreeklik staan vir ’n klomp rekenings. Navrae oor die Internet of oor die telefoon is futiel – ’n inbelsentrum is mos ontwerp om die klante van die besigheid af weg te hou, en effektief te verhoed dat die klant nie ’n verhouding met een verantwoordelike persoon kan opbou nie. Daarby moet ’n mens in elk geval elke eis item vir item bespreek, in ons geval veertien bladsye lank.

Met die hulp van RAU se skakelbeampte vir mediese dienste, Jaco Nel, het ek toe ’n uitdruk van alle eise gekry en Dinsdag ’n afspraak by die mediese fonds se hoofkantoor gemaak. Kort voordat ons by die huis wegry, bel Jaco my. Hy het pas uitgevind daar is ’n vensterperiode waarbinne ek van die kernplan na die komprehensiewe plan kan terugkeer, en hierdie vensterperiode verstryk op 31 Maart. By die mediese fonds sien ons ’n baie vriendelike en behulpsame konsultant, saam met wie ons uiteindelik deur al die eise werk en ’n hele paar foute identifiseer. Dit kos ons uiteindelik drie volle ure in konsultasie, maar sy help my sommer ook om net daar die e-pos te stuur waardeur ek reël dat ek teruggeplaas word op die komprehensiewe plan waarop ek al die jare was. Dit sal my ’n bietjie geld kos, maar nogmaals moet ons dankbaar wees vir ’n groot uitkoms!

Ons kom uiteindelik halfpad deur die middag in Pretoria aan, en het skaars tyd om koffie te drink voordat ons die tweeling skaak toe moet vat. Simon het deur die loop van die oggend reeds erg ongeduldig geraak en sy oom André gebel (en aangejaag) om hom by die hospitaal te kom haal en na oupa Ampie-hulle toe te vat. Hy lyk vir my en Susan nog maar bleek met sulke Hansie-en-Grietjie-hoenderbeentjies, maar het darem die middag goed geslaap.

Hoe goed en hoe lank sal hy kan konsentreer? Net die beste 10 seuns en 5 dogters van elke ouderdomsgroep word na die SA Junior Geslote kampioenskappe uitgenooi. Daar speel al die onder 10’s, onder 12’s en onder 14’s in een afdeling, en die ouer kinders weer in ’n ander afdeling. Die 3 beste seuns en die 2 beste dogters in elke ouderdomsgroep word in die nasionale span opgeneem wat November in Griekeland aan die wêreldkampioenskappe gaan deelneem. Dit maak van hierdie prestigetoernooi die moeilikste toernooi van die jaar. Gelukkig is daar vir ons niks op die spel nie. Laetitia was Desember tweede in die SA Ope, en is daarom reeds in die nasionale span. En wat Simon betref, koester ons geen hoop of verwagtings nie. Al wat tel, is dat hy moet gesond word, en skaakspeel is bloot deel van die terapie.

Deur die loop van die week word Simon al hoe sterker. Hy slaap getrou elke middag en drink sy pille, en hy speel verstommend goeie skaak. Teen die einde van die toernooi lê hy derde van die onder 12’s, en moet hy uitspeel vir ’n plek in die nasionale span. Dié wedstryd (teen ’n Gauteng-spanmaat, Chris Pretorius) verloor hy, maar soos hy self sê: “Dis miskien beter so, want ek weet nie of ek op 31 Oktober al sal reg wees om oorsee te gaan skaak speel nie.”

Vrydagmiddag gaan ons spesiaal Unitas toe sodat die ander manne in die gesin hulle solidariteit met Simon kan betoon. Ons laat al drie ons hare sny in Kansa se Shavathon, maar die groot seuns is vir my kwaad omdat ek dit nie korter as nr. 4 wil sny nie. Maar terwyl hulle vakansie het, preek ek – in die openbaar!

Vir ons is die belangrikste egter dat Simon weer sy normale grappies begin maak, en dat hy die vrolike kind is vir wie ons lief is. Oor die naweek kyk hy video, speel hy rekenaarspeletjies saam met sy boeties, gaan hy soos normaal saam kerk toe, en Maandagoggend gaan hy selfs saam met ons gym.

Dinsdag 6 April tot Dinsdag 13 April 2004

Maandag het Simon hospitaal toe gegaan vir sy binne-aarse chemo-inspuiting, en gou daarna weer teruggekeer huis toe. Dinsdagoggend moes hy egter vroeg by die hospitaal wees sodat die narkotiseur hom kan sien, want dan kry hy weer ’n nuwe Port-o-Cath of Broviac om die bloedtrek en binne-aarse medikasie makliker te maak.

Toe Susan hom douvoordag wakker maak, is dit egter dadelik duidelik dat hy nie homself is nie. Sy pak dus by voorbaat vir Simon en vir haarself ’n tas, vir ingeval Simon weer in die hospitaal moet bly. By die hospitaal aangekom, is sy koors weer hoog, en die operasie word summier afgestel. Simon spook die hele dag met koors wat slegs met behulp van koorsmedisyne beheer word. Maar die dokters is ook huiwerig om sommer net die hele tyd koorsmedisyne te gee (en hulle verskil oor watter medisyne), dus bly ’n mens maar onrustig.

Teen Woensdagoggend 03h00 val Simon se bloeddruk weer, en Susan vertel later sy het my ampertjies in die nag gebel. Die verpleegpersoneel bel egter wel vir Mariana Kruger wakker, en sy skryf dadelik medisyne voor. Gelukkig werk die medisyne wat hulle gee, en sy bloeddruk begin geleidelik verbeter.

Die vraag is egter hoekom hy aanmekaar koors kry. Dit kan tog nie nog steeds ’n sluimerende bakteriese infeksie wees nie – nie na die blaaskans en al die baie antibiotikas wat Simon 10 dae aanmekaar gekry het nie! Daarom begin Mariana Kruger vermoed dat Simon dalk ’n allergiese reaksie toon op die Cytosar (chemo) wat hy ontvang. Sy gee hom Woensdag dus antihistamien voor die Cytosar, en siedaar, geen koors nie! Hoewel sy steeds huiwer om te sê dat ons nou beslis die rede vir die koors gevind het, is ons baie positief, want Simon kry nie Woensdag of Donderdag weer koors nie.

Donderdagoggend beleef Susan die trauma van kinders met kanker weer eerstehands. Met Simon gaan dit goed, maar daar is van die ander kinders in die eenheid wat nie so gelukkig is nie. Woensdagnag het ’n vyf maande oue babatjie reg deur die nag gehuil. Susan het sy ma en die susters help aflos in ’n poging om hom te troos, maar hy het homself effektief die hele nag aan die slaap gehuil en dan weer wakker gehuil. Dr. Lourens de Jager laat doen toe weer ’n scan van die outjie se ingewande, en toe wys dat dat hy deurtrek is van die kanker. Die dokter moes toe maar vir sy ma sê dat daar geen hoop meer is nie, en het vir hom morfien gegee om verligting te bring van die verskriklike pyn. Susan vertel dat Lourens Donderdagoggend ook vir ’n ander ouerpaar moes vertel dat hulle kind terminaal is, en dat sy kon sien hoe sy mond bewe toe hy die slegte nuus aan hulle moet oordra. In hierdie afdeling het ’n dokter (of verpleegster) nie ’n maklike werk nie. Mariana Kruger het hoeka op ’n dag vir ons gesê: “Iemand wat dink ek staan in die oggend op met ’n lied in my hart om my werk te kom doen, moet dink ek het ’n sielkundige afwyking!”

Donderdagaand kom Simon terug huis toe. Hy voel die hele naweek maar naar, en kan nie enigiets eet of ruik nie. Hy kla ook oor pyne in sy bene. Nogtans gaan dit met hom goed, en speel hy met sy boeties en sussie. Hy slaap maar net meer as gewoonlik.

Sondag nooi ons op die ingewing van die oomblik Susan se broers en suster om met hulle gesinne by ons te kom eet. Dit word ’n heerlike kuier, en André vat al sewe neefs en niggies saam met hom huis toe (terwyl Chrisanda 7 maande swanger is met hulle tweede!) Simon gaan saam, en geniet dit baie.

Kom ons hoop die behandeling kan hiervandaan plaasvind soos dit veronderstel is – sonder onnodige komplikasies!

Fase 3: April tot Junie 2004

Van die einde van April tot en met middel Junie is Simon in fase 3 van die basiese behandeling. Dit behels dat hy vir ongeveer 4 dae lank hospitaal toe gaan vir allerhande soorte chemoterapie, en dat hy daarna vir ongeveer 10 dae lank huis toe kom. Hierdie roetine word 4 keer herhaal, en duur dus ongeveer 8 weke.

Die chirurg het vir die tweede keer ’n Port-o-cath ingeplant sodat hulle nie Simon se are hoef voos te steek elke keer as hulle moet bloed trek of binne-aarse chemo moet toedien nie. Dit gebeur maklik drie of vier keer per dag, en naderhand het hy regtig net mooi nêrens ’n behoorlike aar oor nie. Dit is uiteraard elke keer ’n bietjie seer, en natuurlik selfs meer as gewoonlik as sy lyf seer is en hy pap is van die behandeling.

Waar Simon eintlik die hele tyd ’n heel aangename seuntjie is, moes die arme tannies van die bloeddiens dit juis een môre ontgeld toe hulle moet kom bloed trek en ’n smeermonster van sy neus neem. Simon laat hulle toe om sy bloed te trek maar weier volstrek dat hulle iets in sy neus opdruk.  Geen vorm van soebat help nie. Susan sê toe naderhand vir hom dat hy ’n keuse het: óf hy werk vrywillig saam óf sy gaan lê bo-op hom en die susters hou hom vas dat hulle die monster kan neem. En dan kan hy éérs seerkry! Dikbek en teensinnig laat hy hulle toe maar begaan, maar toe die susters klaar is en vriendelik groet, snou hy hulle toe: “Voertsek!” Daaroor het hy deeglik raas gekry, eers by sy ma en later by sy pa, want al verstaan ’n mens dat hy so voel, is dit baie onbillik teenoor die susters wat hulle uiterste bes doen om hulle werk bekwaam én vriendelik te doen. Gelukkig het hulle hom vergewe en agterna selfs daaroor geterg.

Na die blaaskans in Simon se behandeling, kon die tweede Port-o-cath  uiteindelik sonder onnodige risiko’s ingeplant word. Ons was dankbaar dat dit maklik en suksesvol afgeloop het, maar ek was net teleurgesteld dat hulle dit dié keer aan die ander kant van sy borskas ingeplant het. Die eerste keer se wonde het regtig lelik gesond geword, en nou is daar nog twee treinspore aan die ander kant van sy borskas ook! Hy sal nou ongelukkig nie meer ’n model kan word as hy groot is nie!

Die Port-o-cath  werk toe heel gemaklik vir die eerste week. Tydens die tweede behandeling kry hulle nie bloed getrek nie, maar kan hulle darem nog die chemo daardeur gee. Toe die derde behandeling kom, werk die Port-o-cath  glad nie meer nie. By nadere ondersoek blyk dit toe dat die liggaam die vreemde voorwerp heeltemal verwerp het en skoon die pypie uit die aar gedruk het. En dit na al die moeite, stres en geld! Ons besluit toe maar saam met Mariana Kruger om nie weer te probeer nie. Die simpel knop moet nou maar in sy borskas bly totdat die laaste fase van die behandeling begin. Teen daardie tyd behoort Simon weer gesond genoeg te wees vir die vierde operasie sodat die Port-o-cath vir die laaste keer verwyder kan word. Simon is baie bly daaroor, en wil dadelik weet of hy dan in die derde kwartaal weer sal kan krieket speel. Ek is glad nie opgewonde oor dié idee nie, en Mariana volg ook maar langtand die uitsteltegniek – “Ons sal sien as ons daar kom!”

Ons was vooraf baie bang vir Fase 3 van die behandeling, want dit dra die onheilspellende naam “Intensifikasie”. Maar genadiglik het dit eintlik elke keer beter gegaan. Omdat die dokter en verpleegpersoneel nou bedag was op Simon se allergiese reaksie op die Cytosar, het hulle hom elke keer fyn dopgehou. By die eerste tekens van koors het hulle vir hom anti-histamien en kortisoon gegee om die allergiese reaksie teen te werk. Hoewel dit hom uitgeskop het dat hy die Woensdag en Donderdag eintlik heeltyd net passief lê, het dit die gevaar van ’n hoë koors effektief geëlimineer.

Die groot frustrasie tydens al vier behandelings in Fase 3 was die effektiwiteit van die chemo. Nadat Simon chemo gekry het, wou die toksiese vlakke in sy bloed net nie gou genoeg daal nie, met die gevolg dat hy langer as die beplande vier dae in die hospitaal moes bly. Dit was nie goed vir sy gemoedstemming nie, en hy het dit baie duidelik vir die dokters en verpleegsters gewys. Ons het hom aangemoedig om te loop en aktief te wees, en om minstens 3 liter water per dag te drink, maar selfs dit het nie regtig ’n verskil gemaak nie. Dit het hom veral moedeloos en moeilik gemaak as klein Tienis Swart mooi op die beplande tyd kan huis toe gaan, maar hy moet langer in die hospitaal bly! Aan die ander kant verstaan ons darem dat die hoë toksisiteit in die bloed beteken dat die chemo lank en deeglik werk. “Vrek kanker, vrek!”

Gelukkig is daar ’n einde aan alle dinge. Ek kon Simon op Vrydagmiddag 11 Junie by die hospitaal gaan haal. Hy is nou klaar met fase 3 van die behandeling, en net die laaste fase bly nog oor (wat presies dieselfde daar uitsien as die eerste fase). Fase 3 het sonder enige krisis verloop, en alles dui daarop dat die behandeling 100% suksesvol is. Daar was geen onnodige komplikasies nie, en sy beenmurg lyk baie aktief en gesond. Hy het deur hierdie hele fase heen eintlik baie min Granocyte-inspuitings nodig gehad om sy witbloedselle te stimuleer, en elke keer as ons bloed laat trek het (minstens twee maal per week) was sy tellings uitstekend.

’n Samevatting van Fase 3 van die behandeling sal onvolledig wees sonder ’n verwysing na hoogtepunte en laagtepunte. Die hoogtepunte is te danke aan Reach for a dream. Op Donderdag 22 April 2004 het die SA Krieketraad hulle jaarlikse prysuitdelingsfunksie gehou, en Reach for a dream het gereël dat Simon en ’n paar ander kinders met lewensbedreigende siektes die geleentheid bywoon. Sy bevoorregte pa moes natuurlik saamgaan om hom te versorg. Wat ’n aand! Elkeen van die krieketspelers is aan ’n ander tafel geplaas, en het in ’n sekere sin gasheer gespeel vir borge en besoekers. Paul Adams was vir ons ’n skitterende gasheer, en ons is baie beïndruk deur die manier waarop al die krieketspelers na die besoekers uitgereik het. Simon het deur die loop van die aand die hele nasionale krieketspan ontmoet, almal se handtekeninge gekry en is saam met feitlik almal van hulle afgeneem. Dit sluit self ouer kriekethelde soos Jonty Rhodes en Steve Elworthy in! Daarby neem die Beeld se fotograaf Simon saam met Jacques Kallis (die speler van die jaar) af, en hulle foto verskyn die volgende dag in die koerant. Ons het agterna die grootste fotoraam in die winkel gekoop, en kon nie eers al die foto’s daar inpas nie.

Dit was die Donderdagaand. Die Maandagaand reël Reach for a Dream se Pretoria-verteenwoordiger toe met my om Simon se droomgeskenk by my ma-hulle se huis te gaan aflaai. Simon is hoogs geïrriteerd dat hy saam met ons soontoe moet piekel, maar toe hy die pool-tafel sien wat hulle vir hom aflaai, was hy in ekstase. Hy moes egter geduldig wag tot die Saterdagaand toe Wouter en Abrie saam met die Florida-koor ’n konsert in die Voortrekkermonument het, voordat ons (danksy ons vriendelike buurman, Hannes Buckle) die tafel kon huis toe bring. Dit kos my toe my studeerkamer, wat die enigste kamer in die huis is wat groot genoeg is om die pool-tafel te huisves. Ek moet nou maar gediend wees met die kleiner kamertjie wat vroeër die kinders se speelkamer was. Toe Mariana Kruger daarvan hoor, merk sy op: “As julle nog julle oë uitvee, sit julle weer met ’n pool-kampioen in die huis, en dan wil julle weet waar dit vandaan kom!” En as my broer, Ian, enigsins iets daaraan kan doen, sal dit gebeur. Hy is ’n ernstige ligaspeler en ’n gekwalifiseerde pool-skeidsregter, en het summier kom kuier en die kinders tegnieke en toertjies begin leer. Hy het nou ook al twee duur stokke vir die kinders geskenk, en sedertdien is die pool-tafel selfs ’n groter versoeking vir die kinders as die vervlakste Playstation. Maar die positiewe daarvan is natuurlik dat dit ook weer iets word wat die kinders aan mekaar bind.

Aan die ander kant het ons in hierdie tyd ook heelwat seer beleef, veral saam met ander pasiënte en hulle families. Net soos ’n mens geen verduideliking kan gee vir die siekte en swaarkry in die lewe nie, net so kan jy nie verduidelik hoekom party pasiënte gesond word en ander nie. Tydens Simon se behandeling is daar ’n hele paar ander kindertjies dood, en jou hart wil breek oor elkeen van hulle. Jy het hulle gesien, en jy het met hulle en hulle ouers gesels. Ek sal nooit vergeet hoe ek met die swart seun, Andries, se pa in die gang gesels toe hulle hom na Intensiewe Sorg toe vat nie. Hy is verlam van spanning, en al wat hy vir my kan sê is: “Hulle het kak gemaak!” Andries is gedurende die volgende week aan hartversaking dood. Tydens die SA Dames Ope loop ek Michael Tappen se ma toevallig raak, en sy vertel hoe hulle voorberei om vir ’n beenmurgoorplanting Kaap toe te gaan. Michael het aanvanklik (soos Simon) ALL (Akute Limfoblastiese Leukemie) gehad, en uitstekend op die behandeling gereageer. In die onderhoudsperiode ná die basiese behandeling het die kanker egter teruggekeer, en hierdie keer in die vorm van AML (Akute Meloïede Leukemie). Toe moes hulle van voor af met behandeling begin, en dié slag was ’n beenmurgoorplanting nodig. Party mense dink ’n beenmurgoorplanting is die maklike kuur vir leukemie, en hulle besef nie watter geweldig riskante prosedure dit is nie. Michael het ’n week na die oorplanting skielik spontaan sepsis ontwikkel en is dood sonder dat die dokters enigiets vir hom kon doen.

Elke keer as ’n kind sterf, weet jy dit kon jóú kind gewees het, en jy weet presies deur watter smart daardie kinders se ouers gaan. En jy is eintlik magteloos om te troos, want jou kind leef nog. Maar dan besef ’n mens eers regtig hoe kosbaar die gawe van ’n kind is, en watter onbeskryflike verantwoordelikheid die Here aan jou toevertrou het. Vir dié ouers wat ’n kind verloor het, kan ’n mens net bid dat die Here self mettertyd troos en berusting sal bring, en dat hulle vriende en familie hulle sal ondersteun soos ons vriende en familie ons ondersteun. As niemand iets aan die wrede werklikheid kan verander nie, bly dit vertroostend om die liefde en teenwoordigheid van ander mense te ervaar.

Vir ons was hierdie moeilike tyd ook ’n tyd waarin ons elkeen van ons kinders opnuut leer waardeer het. Toe Susan vroeg in Simon se behandeling vir Wouter verskoning vra dat ons hom afskeep, antwoord hy: “Ek sou afgeskeep voel as julle minder aandag aan Simon gee!” Abrie het maar aangepas en self meer verantwoordelikheid aanvaar vir al die take waarmee die kinders deesdae belas word. Hy was geduldig wanneer ons aanhou uitstel het. Laetitia het geleer om alleen skool toe te gaan en alleen skaak te speel. En wanneer Simon tuis was en kon toets skryf, het sy gesorg dat hy die werk het wat hy moet leer – én dat hy dit verstaan. Vir Simon het ons almal nuwe respek ontwikkel, want hy is ’n klein mannetjie met ’n vegtersgees en ’n vreeslike positiewe instelling. Laetitia-hulle moes vir een of ander vak in die skool ’n toespraak maak oor ’n held, en besluit toe (teen my sin) om oor Simon te praat. Daar was blykbaar ’n hele paar trane in die klas toe sy haar toespraak opsê, en agterna het ek besluit dat sy ’n paar dinge eintlik baie mooi raakgesien het:

“Vandat my hart sy eerste klop gegee het, was hy al deel van my lewe. Ek is saam met hom gebore. Ons het saam leer sit, kruip en loop. Ons het saam ons eerste woordjies gesê. Hy was van altyd af my beste maat. Ek het nog altyd alles saam met hom gedoen. En ek bewonder hom meer as vir enigiemand anders. Ek praat van my tweelingboetie, Simon.

         Simon is een van die vrolikste mense wat ek ken. Hy kan jou altyd opbeur met sy grappies. In ons huis sê ons altyd as selfs Simon nie vir jou grappies lag nie, is hulle regtig flou. Want Simon lag altyd vir almal se grappies, en daarom is almal lief vir hom.

         Dit was die slegste dag van my lewe toe Simon met leukemie gediagnoseer is. Ons was almal so hartseer, maar Simon was nes altyd vrolik en vol grappies. Toe hy hoor hy moet hospitaal toe gaan, was hy net verlig dat hy ’n toets gaan mis! Dit het dit vir ons almal makliker gemaak. Ons het gereeld sommer gelag terwyl ons trane loop. Hierdie sin vir humor het ook gehelp toe hy vir die eerste keer moes terugkom skool toe. Hy het nie meer soos voorheen gelyk nie en hy was maar selfbewus oor sy min hare en ronde gesiggie. Maar toe vind hy uit as hy self grappies maak daaroor, terg niemand hom nie.

         Simon is ’n baie talentvolle mens en ek bewonder alles wat hy so maklik kan doen. Hy is die beste skaakspeler wat ek ken, en as dit nie vir hom was nie, het ek nie skaak gespeel nie. Dit was vir my baie erg om sonder hom skaak te speel terwyl hy so siek was. Hy kan in ’n oogwink ongelooflike skuiwe op die bord raaksien. En hy raak nooit ontsteld as hy verloor nie. Hy aanvaar dit gelate en sê altyd: “Ek het ge-blunder en toe verloor ek!”

         Ek het altyd gedink dat Simon ’n vegter en ’n wenner is. Maar met hierdie siekte saam het ek dit al hoe meer besef. Hy moet baie pyn deurstaan en bly dapper as dit moeilik gaan. Partykeer wonder ek of ek dit sou kon doen. Hy het sy siekte heeltemal aanvaar en dit lyk nie of hy bang is vir enigiets nie. Hy vat ook maar die naar en ander slegte goed so terloops. Dis net as hy moeg is dat ’n mens hom amper nie herken nie. Maar sodra hy ’n bietjie beter voel, is hy gou weer positief en dan sê hy dit gaan baie beter.

         Hierdie kanker van Simon het my baie laat dink. Ek waardeer my boetie baie meer. Ek het nooit besef hoe erg dit is om sonder hom dinge te moet doen nie. Maar dit het ook gemaak dat ek hom meer bewonder as ooit. Ek was altyd lief vir hom, maar nou kyk ek na hom met nuwe oё.”

Nou moet ek ’n laaste storie byvoeg: met die limbaalpunksie op Wouter se verjaarsdag het ek mos vir Simon belowe ek sal vir hom ’n fiets koop en volgende jaar Januarie saam met hom ry op ons kerk se fietswedren. Wel, Simon spaar nou al saam met my om dié fiets te koop. En toe ek verlede week met Hannes Koekemoer (een van ons wedren se borge) gesels, bied hy aan dat ek sy bergfietstandem kan leen om saam met Simon die Crater Cruise te gaan ry. Nou kan Simon nie meer wag vir 16 Oktober nie, en hy gaan selfs saam gym toe om te oefen! Met sy gees is daar gewis geen fout nie ...

En wat wag nou op ons? Simon het nou so ’n bietjie van ’n blaaskans voordat die laaste fase van die behandeling op 5 Julie 2004 begin. Ons gaan die geleentheid gebruik om sommer as gesin vir ’n week weg te breek Suidkus toe. En as alles goed gaan, duur die laaste fase van die behandeling vyf weke, en sal ons gedurende Augustus met die basiese behandeling klaarmaak. In September doen hulle dan weer ’n beenmurgaspirasie om seker te maak dat daar geen kanker aanwysbaar is nie, en daarna gaan hy vir drie jaar lank op die onderhoudsprogram. Ons sien al die lig voor in die wapad! 


Copyright (c) 2006. All rights reserved.
Webmeester