|
Wat is ’n stamseloorplanting (of beenmurgoorplanting)?
Baie mense vra ons wat ’n beenmurgoorplanting
(eintlik ’n stamseloorplanting) behels. Om te verduidelik wat ’n
stamseloorplanting behels, moet ’n mens eers verstaan wat beenmurg en stamselle
is, en hoe chemoterapie gebruik word om leukemie (en ander siektes) te beveg.
Beenmurg is die sponsagtige weefsel in ’n mens se beenstruktuur wat stamselle produseer. Stamselle groei en
ontwikkel uiteindelik in een van drie soorte bloedselle – witbloedselle wat die
liggaam teen infeksies beskerm, rooibloedselle wat die liggaam van suurstof
voorsien, en plaatjies wat bloed laat stol.
Leukemie (bloedkanker) ontstaan wanneer daar êrens in die ontwikkeling van die
witbloedselle ’n fout intree en wangevormde selle onstaan. Hierdie wangevormde
selle doen nie die werk wat witbloedselle moet doen nie (infeksies beveg), en
vermenigvuldig (soos alle soorte kankerselle) baie vinniger as gewone selle.
Uiteindelik “verstop” hulle so die pasiënt se sisteem, en veroorsaak hulle
allerlei komplikasies wat tot die pasiënt se dood kan lei.
Chemoterapie verwys na ’n groep medisynes wat juis vinnig verdelende selle in die
liggaam doodmaak, en wat daarom veral kankerselle in die liggaam aanval. Chemo
maak egter nie net kankerselle dood nie, maar is hoogs toksies (giftig) en
affekteer ook ander selle in die liggaam. Dit hou onder meer die gevaar in dat
’n pasiënt se beenmurg volledig vernietig kan word (en dat dit dus nie meer
nuwe bloedselle kan produseer nie), en daarom kan ’n pasiënt nie meer as ’n
sekere hoeveelheid chemo ontvang nie.
Omdat leukemie onstaan as gevolg van foutiewe
selvorming wat sy oorsprong in die liggaam se beenmurg en stamselle het, het
dokters die siekte (en ander siektes soos kernbestraling) sedert 1986 begin behandel
deur vir terminaal siek pasiënte nuwe stamselle van geskikte skenkers te gee.
’n Beenmurgoorplanting (of eerder stamseloorplanting) maak dit dus nou moontlik
om ’n leukemie-pasiënt se hele beenmurg deur chemo dood te maak (want dis waar
die kanker sy oorsprong het), omdat die pasiënt daarna nuwe stamselle van ’n
gesonde skenker ontvang. So word die risiko dat die leukemie ooit weer kan
terugkeer, drasties verminder. Pasiënte kan dus ook sonder ’n
stamseloorplanting – net met behulp van chemo – genees word, maar dan is die
risiko van ’n terugval na die behandeling groter.
Aanvanklik het dokters die stamselle verkry deur (onder narkose)
tot in die skenker se heupbeen (of ander groot been) te boor en die stamselle
met naalde daaruit te onttrek. Dit is waar die term beenmurgoorplanting vandaan
kom. In die afgelope paar jaar het hulle egter uitgevind dat die beenmurg
onvolwasse stamselle in die bloed afskei as die pasiënt met ’n bepaalde middel
(bv Granocyte of Neupogen) ingespuit word. Die gevolg is dat stamselle van ’n
skenker nou verkry word deur soos normaalweg bloed te trek, die stamselle uit
die bloedstroom te oes en die res van die bloed weer terug in die skenker se
liggaam te sirkuleer.
Terloops, ’n uitstekende bron vir gesonde
stamselle is die plasenta wat vroeër na geboorte vernietig is. Ek sou baie
sterk aanraai dat enigiemand wat in ons moderne tyd ’n baba gaan hê, met die
dokter reëlings tref om die baba se plasenta na geboorte te bewaar. Met al die
ontwikkelinge in mediese navorsing, sal stamseloorplantings in die toekoms vir
al meer siektes ’n oplossing bied.
Stamseloorplantings in SA word in noue
samewerking met die SA Beenmurgregister in Kaapstad gedoen. Die proses van ’n stamseloorplanting
word voorafgegaan deur ongeveer ’n week van intensiewe chemoterapie wat daarop
gerig is om al die pasiënt se
beenmurg dood te maak. Vandat die chemoterapie begin totdat die pasiënt na
afloop van ’n suksesvolle stamseloorplanting uit die hospitaal ontslaan
word, is die pasiënt weerloos teen kieme
en infeksies, en word hy onder streng kwarantyn gehou en sy toestand baie fyn
gemoniteer. Nadat al die chemo toegedien is, rus die pasiënt vir ’n dag of twee
voordat die nuwe stamselle soos met ’n gewone bloedoortapping in die are
vrygestel word. Die nuwe stamselle vind self hulle weg na die beenmurg, en
begin daar om nuwe bloedselle te genereer. Dit kan 7-14 dae vat voordat die
stamselle nuwe bloedselle produseer en hierdie nuwe selle volwasse genoeg is om
hulle werk te doen. Hierdie is die kritieke tyd in die behandeling wanneer die
pasiënt weerloos is, en almal eenvoudig net kan wag en bid.
Voordat ’n stamseloorplanting kan plaasvind,
moet daar egter ’n geskikte skenker gevind word. Waar daar nie ’n geskikte
skenker in die naby familie gevind word nie, moet ’n mens by die
Suid-Afrikaanse Beenmurgregister (SABMR) in Kaapstad aanklop. Indien hulle nie
’n geskikte skenker op hulle register het nie, kan ’n mens op internasionale
beenmurgregisters gaan soek, maar die proses word elke keer meer gekompliseerd
en aansienlik duurder.
Toetse
om te bepaal of iemand moontlik ’n geskikte skenker kan wees, word gedoen in samewerking met die Suid-Afrikaanse Nasionale
Bloeddiens (SANBD), wie se hoofkantoor in die Constantia Kloof-kom (in
Roodepoort) is. Mnr. Derrick Nelson van die SANBD is baie behulpsaam, en kan
gekontak word by 011 761-9227. Hy het die volgende inligting aan my deurgegee:
-
Enige voornemende skenker moet
gesond wees met geen vorige geskiedenis van siektes soos kanker, hepatitis
(geelsug) of VIGS nie.
- Die vereiste proses behels dat
twee buisies bloed op die gewone manier (met ’n naald uit ’n prominente aar in
die arm) by die voornemende skenker getrek word.
- Die toetse is baie duur, en elkeen
wat oorweeg om hom/haarself te laat toets, moet heel eerstens besluit of hulle
net vir een spesifieke persoon ’n skenker wil wees, en of hulle bereid is om
vir enigiemand in die wêreld ’n skenker te wees (en dus in die SA
Beenmurgregister opgeneem te word).
- Indien iemand homself net met die
oog op een spesifieke pasiënt laat toets, moet hy self die koste van R816 dra.
Feitlik enigiemand bo die ouderdom van 2 jr oud kan in hierdie geval getoets
word.
- Die SABMR en die Sunflower Fund subsidieer egter die
koste vir mense wat by die SA Beenmurgregister aansluit en hulle besonderhede
in die register laat opneem, en dan kos dit net R200. Slegs mense tussen die
ouderdom van 18 en 50 jaar kan in hierdie geval getoets word.
- Daar moet twee stelle toetse
gedoen word om te bepaal of iemand ’n geskikte skenker met ’n ooreenstemmende
weefseltipering is. Daar is geen manier om vooraf te bepaal wat die kans is dat
iemand ’n geskikte skenker vir ’n spesifieke pasiënt is nie (deur bv te kyk na
voorkoms, kleur van hare of oë, fisiese bou ens.)
- Enigiemand wat hom/haarself met
die oog op ’n bepaalde pasiënt (bv Simon) wil laat toets, moet op die vorm wat
ingevul word, spesifiek vra dat sy weefseltipering teen dié bepaalde pasiënt
s’n getoets moet word.
- Aanvanklik word daar slegs ’n
sogenaamde HLA Klas 1 weefseltiperingtoets gedoen. Slegs indien hierdie toets
positiewe resultate oplewer, word die tweede toets gedoen (dan op die koste van
die ontvanger se mediese fonds).
Mense wat die toets wil laat doen, word na die
SANBD se streekkantore verwys, waarvan die volgende ’n paar is:
|
Fairland, Johannesburg
|
011 478-1249
|
h/v 14e Laan & Johannesstraat
|
|
Westgate, Roodepoort
|
011 768-0283
|
(naby Checkers Hyper)
|
|
Randburg
|
011 447-6665
|
Colony Shopping Centre
|
|
Queenswood, Pretoria
|
012 333-9768
|
Wesleystraat
|
|
Centurion
|
012 663-8867
|
Servamusgebou, Mike Crawfordlaan
|
|
Pretoria-Oos
|
012 991-5059
|
Atterbury Value Mart, 2e vloer (langs Action Cricket)
|
|
Krugersdorp
|
|
h/v Shannon & Clewstraat
|
As familie gee ons graag die relevante
inligting deur omdat baie mense ons daaroor uitgevra het. Ons laat ons dit
uiteraard aan elke individu oor om te besluit of hy homself wil laat toets, en
of hy bereid is om by die SA Beenmurgregister aan te sluit. Ons glo nogtans dat
dit vir die hele gemeenskap van belang is dat hierdie register moet aanhou
groei sodat al hoe meer mense daardeur gehelp kan word.
|